ADVERTISEMENT:

 

Die illustrasie wys die bloedspatselpatrone waarop ‘n deskundige ‘n beslissing gemaak het dat Le Grange se beserings nie deur homself toegedien is nie. Die deskundige het later gelyk gegee dat Le Grange dalk wel sy eie dood kon veroorsaak het.

 

Staat laat vaar saak in Le Grange-moordverhoor

 

Die moordverhoor van die 34-jarige Karel Lotz het skielik tot ‘n einde gekom, nadat die saak van die hofrol geskrap is.

Lotz, wat tans in Polokwane woonagtig is, is van moord aangekla. Dit nadat sy huismaat, mnr. Pedro Cisco le Grange (31), onder raaiselagtige omstandighede oorlede is op die Lotz-familieplaas Platkoppies naby Morebeng (Soekmekaar).

Le Grange se liggaam is op 14 Junie 2010 in ‘n plas bloed, oortrek met talle diep snywonde, aangetref. Behalwe dat die vertrek waarin hy gevind is vol bloedspatsels was, is daar binne en buite die huis ook bloedspore gevind. Langs Le Grange was die stukke van ‘n gebreekte teekoppie, ‘n stopverfmes en deel van iets wat vermoedelik ‘n tand was.

Lotz se verhoor het gedurende 2011 begin in die Louis Trichardt Streekshof, nadat dit van die Sekgosese (Soekmekaar) hof hierheen oorgeplaas is. Die verhoor was al goed op dreef toe die destydse landdros homself van die saak moes onttrek. Dit het tot gevolg gehad dat die saak weer oorgeplaas is na die Sekgosese Hof en van vooraf moes begin.

Tydens Lotz se laaste hofverskyning in die hof, op 11 Mei, het landdros Ratshibvumo Lotz se aansoek om kwytskelding aanvaar. Hierdie aansoek het daarop berus dat die patoloog en forensiese deskundige se getuienis vir die Staat onvoldoende was. Lotz se verweer was dat Le Grange, wat ‘n rehabiliterende dwelmverslaafde was, in ‘n psigotiese aanval homself noodlottig met ‘n teekoppie beseer het. Lotz se regsverteenwoordiger, mnr. Thomas Grobler, het geargumenteer dat beide die patoloog en ‘n bloedspatseldeskundige vir die Staat toegegee het dat dit moontlik is dat Le Grange verantwoordelik kon wees vir sy eie dood.

Dit was nie aanvanklik die twee deskundiges se mening nie.

Die patoloog wat die nadoodse ondersoek op Le Grange uitgevoer het, dr. Thakadu Arnold Mamashela, het getuig dat Le Grange doodgebloei het. Le Grange, het Mamashela getuig, het verskeie snywonde oor die linkerkant van sy kop en gesig gehad. Party van die wonde was so diep dat Le Grange se skedel ontbloot was.

Mamashela se bevinding was dat die wonde gelei het tot geweldige bloedverlies weens die slagaar in Le Grange se slaap wat in die proses raak gesny is. Van die snye was tot 5cm lank gewees. Daar was ook verskeie kneusplekke op Le Grange se arms en bene. Mamashela kon nie sê watter wapen, anders as een met ‘n stomp oppervlak, verantwoordelik was daarvoor nie. Hy het verder gesê dat ‘n gebreekte teekoppie moontlik verantwoordelik kon gewees het vir die snywonde. Dit was die patoloog se opinie dat dit nie waarskynlik was dat Le Grange homself kon beseer met ‘n teekoppie nie, omdat die wonde in verskillende rigtings sny en party mekaar kruis. Dit is juis die feit dat die wonde kruis wat die dokter oortuig het dat Le Grange dit nie aan homself kon doen nie. Volgens die dokter moes dié se armbewegings dan elke keer skeef en uit ‘n ander rigting gekom het om die wondpatrone te kon vorm. 

Buiten vir dié getuienis het die Staat ook ‘n bloedspatseldeskundige, A/O André Masyn, gehad wat getuig het oor die arteriële en wegspat bloedsproei wat geïdentifiseer is as Le Grange se bloed.

Volgens Masyn het die arteriële bloed wat teen die muur van Le Grange se kamer gekry is daarop gedui dat Le Grange in daardie stadium in ‘n lae liggaamsposisie was toe sy slagaar afgesny is en dat sy hart die bloed uitgepomp het. Masyn het ook wegspat bloedspatsels, hoër op van die arteriële sproei, geïdentifiseer wat kenmerkend is van bloed wat van ‘n wapen af vlieg. Dit was Masyn se opinie gewees dat die wegspat bloed daarop dui dat Le Grange se wonde deur iemand anders toegedien is.

Onder kruisondervraging het Masyn toegegee dat hy sy bevindings gemaak het vanaf foto’s wat die polisie geneem het van die toneel en bloed. Die deurslaggewende faktor vir landdros Ratshibvumo, toe hy moes besluit of die saak verder verhoor moes word, was ‘n tweede verslag wat Grobler bekom het van dr. S. H. Rossouw van die Universiteit van Pretoria. Dit was Rossouw se geleerde opinie, nadat sy Le Grange se nadoodse verslag bestudeer het, dat dit vir Le Grange moontlik kon gewees het om homself so te sny en heel moontlik ook met ‘n teekoppie.

Onder kruisondervraging het Grobler vir dr. Mamashela gepols oor Rossouw se bevinding, waarop Mamashela toegegee het dat sy moontlik mag reg wees. Hierop het Landdros Ratshibvumo beslis om nie verder vir Lotz te verhoor nie, en die klag van moord teen hom is teruggetrek.

News - Date: 30 May 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: