ADVERTISEMENT:

 

Wyle Jan Louw (55). Foto verskaf.

Nie net hul pa nie, maar hulle held

 

“Dit was nie iets wat ons verwag het nie … dit gaan maar moeilik.”

Hartseer woorde van wyle Jan Louw se jongste seun, Wynand. Te midde van ‘n druk program ten opsigte van administrasie en begrafnisreëlings het hy, sy broer Danie en suster Annemie tyd afgestaan om hulde te bring aan hul pa.

“My pa, my held! So ‘n harde man, maar tog so sag. ‘n Man wat kon lag en liefde uitstraal. ‘n Man wat omgegee het vir die mense om hom en altyd tyd gemaak het vir hulle. Hy het oneindig baie planne gehad wat nooit opgeraak het nie. Hy was iemand wat hard gewerk het met sy hande en het vir geen taak teruggestaan nie…” So onthou Wynand sy pa.

“Toe ek pappa moes groet Maandag, kon niks my voorberei vir die seer wat wag nie. Ek wonder elke dag hoe ek hierdeur gaan kom en aanbeweeg, maar dan onthou ek pappa sou wou hê ek moet net,” skryf ‘n hartseer Annemie in haar huldeblyk aan haar pa.

Wynand sê dat hy nie vir ‘n beter leermeester in die lewe kon vra nie. “Hy was ‘n man wat trots was op alles wat hy gedoen het. ‘n Man vol passie en lus vir die lewe. Dit het uit sy oë gestraal – die liefde en die omgee,” sê Wynand.

Annemie sukkel maar om haar pa se dood te verwerk. “Ek mis my pa so baie. My hart kramp en my trane is nog ver van klaar. Ek is kwaad en alles wat daarmee gepaard gaan, maar ek besef God het my pa meer nodig gehad as ons. Hy het sy mooiste vetplant kom pluk,” skryf Annemie. Sy het haar pa as die beste pa ooit beskryf. “So lekker as wat ons kon baklei, so ook kon ons mekaar liefhê. As pa ‘n kansie kry en afkyk aarde toe na my, hoop ek pa weet hoe baie ek verlang.”

Wynand sê dat boet Danie eweneens sukkel met die hartseer van sy pa se dood. “Hy vat dit maar baie sleg. Hy praat nie veel nie, maar ons weet hoe hartseer hy is. Hy sal veral sy pa se ondersteuning mis by sy rugbywedstryde,” sê Wynand.

‘n Roudiens word Vrydag, 24 Junie, om 11:00 vanuit die NG Kerk Louis Trichardt vir wyle Jan gehou. Die diens sal waargeneem word deur past. Leonie Meyfarth.

“Ons as familie wil net graag almal bedank wat op een of ander manier my pa bygestaan het tydens sy siekte en nou ook ons familie bystaan met sy afsterwe. Spesiaal wil ons baie, baie dankie sê aan tannie Dina. Baie dankie, tannie, vir alles wat tannie vir my pa gedoen en beteken het tot op die einde. Tannie was voorwaar ‘n steunpilaar vir hom gewees,” sê Wynand. Hy het ook die Makhado Care Group namens die familie bedank vir die ontsaglike bystand wat hulle aan sy pa gegee het, asook die deernis waarmee hulle sy pa en familie hanteer het.

Wyle Jan word oorleef deur sy ouers, oom Danie en tannie Kittie, drie kinders, kleinkinders (Aldo en Anzé) en almal wat hom liefgehad het.

“Rus in vrede – die lewe is beter daar,” was Wynand se groetwens aan sy pa.

    

News - Date: 27 June 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: