ADVERTISEMENT:

 

Klein Leo ontvang nog steeds intensiewe chemoterapie in die Unitas Hospitaal in Pretoria. Foto verskaf.

Klein Leo se stryd dien as inspirasie vir projek

 

Louis Trichardt se plaaslike Kansa-tak doen ‘n beroep op inwoners om hulle omgeepakkie-projek te ondersteun.

Die tak wil ten minste 50 van hierdie pakkies insamel om vir jong kankerlyertjies te gee. Elke pakkie moet ‘n waslappie, sepie, tandeborsel en tandepasta, Vaseline en ietsie lekkers bevat. Pakkies kan afgegee word by die Louis Trichardt Kansa-stalletjie by mnr. Dirk Meissenheimer (plaaslike voorsitter) tydens hierdie jaar se CVO InniBerg Fees wat sal plaasvind van 29  tot 30 Julie.

Hierdie projek is geïnspireer deur klein Leo Botha (17 maande) van Louis Trichardt wat vroeër in die jaar gediagnoseer is met akute limfoblastiese leukemie. Sedertdien ontvang Leo behandeling in die Unitas Hospitaal, waar ma Cherese amper op ‘n daaglikse basis te doen kry met ander kankerlyertjies.

Baie van dié jong pasiëntjies se ouers trek swaar, en het dit nie breed elke maand nie. Dit is juis waaroor die projek gaan, verduidelik Cherese, om hulle ‘n klein bietjie by te staan. “Daar is kinders wat in die hospitaal teen kanker moet veg, maar wat niks het behalwe hulle eie asempies en hoop nie,” het Cherese gesê. “Hierdie klein pakkie sal dié kinders ‘n klein bietjie meer gemak bring - meer as wat enige iemand werklik sal besef.”

As al die pakkies ingesamel is, sal datums vasgestel word, sodat van die pakkies uitgedeel kan word aan kankerlyertjies in Pretoria. ‘n Gedeelte van die pakkies sal ook uitgedeel word aan kinders wat tans behandeling ontvang in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal. “Nie almal besef hoe ‘n nood by Pietersburg se hospitaal is nie. Daar word partykeer tot 30 kinders behandel, en dan moet die hospitaal ander wegwys,” het Dirk gesê.

Sedert Cherese die projek saam met Kansa van stapel gestuur het, het pakkies van orals ingestroom. Die pakkies hoef ook nie noodwendig by die InniBerg Fees afgegee word nie. Vir diegene wat wil, kan die pakkies ook vooraf by Dirk afgegee word by sy kantore by A1 Auto op die hoek van Rissik- en Groblerstraat. Die projek dra Kansa se volle ondersteuning en goedkeuring weg. “Ons sal hulle ondersteun waar ons kan,” het Dirk gesê.

Hy het ‘n dringende beroep gedoen op die gemeenskap om te help. “Die goedjies vir die pakkies koop mens sommer gou-gou saam met jou maand se inkopies, en dit gaan help,” het Dirk gesê.

Vir meer inligting, of om die aflewering van pakkies te reël, kan Dirk geskakel word by tel. 082 789 3927.

 

News - Date: 23 July 2016

Recent Articles

Search for a story:

 

Klein Leo van Louis Trichardt in die arms van ma Cherese en pa Jaydee saam  afgeneem die afgelope naweek tydens sy doop. By hulle is ouboet Alexander. Foto verskaf.

Jolani Klopper van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal se tandheelkunde departement het gereël dat die personeel help pakkies pak. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: