ADVERTISEMENT:

 

Die Op die Berg Interkerklike Gospelmusiekfees wat op 23 Julie by die AGS Charisma in Louis Trichardt gehou is, het baie kunstenaars getrek. In die foto verskyn pastoor Leonie en mnr. Duncan Meyfarth (vierde en vyfde van links) en pastoor John (derde van links) en mev. Marietjie Struwig (heel links) saam met ‘n groot aantal van die kunstenaars. Sommige van die kunstenaars was reeds huis toe met die neem van die foto. Foto verskaf. 

Op die Berg Gospelfees oortref alle verwagtinge

 

“Ons het nog nooit so ‘n goeie opkoms van kunstenaars gehad met die Op die Berg Interkerklike Gospelmusiekfees soos hierdie jaar nie,” het die organiseerders van die fees gesê.

Die fees, wat tevore ‘n paar maal in Levubu aangebied is, het vanjaar vir die eerste keer na Louis Trichardt verskuif en is op 23 Julie by die AGS Charisma gehou.

“Die jongklomp kon ná die fees nie ophou om die Here met hul musiek en sang te loof en te prys nie en hulle sou deurnag aangehou het as ons nie van die instrumente moes skuif vir Sondag se diens nie,” sê mev. Marietjie Struwig. “Die toekoms van hierdie fees is verseker en dit sal steeds elke jaar in die dorp aangebied word,” sê pastoor John Struwig. Hy en Marietjie is vanaf April vanjaar hulp-pastoorspaar by AGS Charisma. Die Op die Bergfees het in hulle harte ontstaan. Hulle kan nie uitgepraat raak oor hoe pastoor Leonie en Duncan Meyfarth en die kerkraad die fees hul eie gemaak het en nie vir ‘n oomblik gehuiwer het om die fees met hulle volle ondersteuning te dra nie.  

Uitstallers het Saterdag al van vroeg af hard gewerk en vir ‘n feestelike atmosfeer en heerlike kos en drinkgoed gesorg. Daar is ook spesiaal vir die kleintjies voorsiening gemaak met ‘n kinderteetuin en ‘n Grand Prix-renbaan vir kinders.

Die musiektalent tydens die fees was volop. Rinus en Stef Phillipson het met hul Country-gospelstyl harte gesteel, pastoor Craig Whitcomb saam met Andurette Roos en haar dansgroep was weereens getroue ondersteuners van die fees, Hester Beukes en PG Strydom het almal geseën met hul vlag- en lofdanse,  Frieda Marais, Marthie Weidman en Heleen Visser het as interkerklike groep met sang en musiek bedien en die plaaslike Charismakoor en Mannekoor het almal verras. Beide kore staan onder leiding van Ann Potgieter. Opkomende kunstenaars Jacques Mouton en Hennie Prinsloo, wat ook die Regalo Musiekskool op die dorp het, het kleur aan die geleentheid verleen asook die bekende Sonette Gouws, wat al met haar vierde gospel CD besig is. Pastoor Pieter en Ruby van der Westhuyzen van Vanderbijlpark met die Lux Dei musiek-, dans- en dramagroep het harte diep aangegryp.

“Ons bedank almal vir hul bydrae om hierdie dag en aand die sukses te maak wat dit beslis was. Dankie aan elkeen van die wonderlike kunstenaars, almal wat stalletjies gehad het, almal wat gehelp het met die opslaan en opruim en ander take, DRS sekuriteit, elkeen wat die fees bygewoon het en weereens vir pastoor Leonie Meyfarth en die kerkraad,” het Marietjie namens die organiseerders van die Op die Berg Gospelmusiekfees gesê.

 

News - Date: 29 July 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: