ADVERTISEMENT:

 

Plaaslike polisie gekritiseer oor swak kommunikasie, leierloosheid

 

Die onlangse vlaag van misdaad het weereens die soeklig geplaas op die Makhado Polisiestasie se interne bestuur.

Navraag is spesifiek hierdie week gedoen rondom waarom daar nooit gehoor word van enige arrestasies in verband met misdade nie. Vrae wat Maandag aan die provinsiale polisie gestuur is,  is verwys na die Makhado polisiestasie. Die koerant wou spesifiek weet waarom daar nog nie arrestasies gemaak is in die groeiende lys van moorde wat in en rondom Louis Trichardt aangemeld is nie.

Dit blyk dat kommunikasie steeds ‘n struikelblok is vir die stasie. Die plaaslike woordvoerder, A/O. Kedibone Mabata, het vandeesweek traag gereageer op die koerant se vraelys. Hy het teen Woensdag wel bevestig dat daar nog geen arrestasies gemaak is in enige van die sake nie, buiten vir een verdagte wat gearresteer is vir die moord op mnr. Johan Oelofse. Mabata kon nie bevestig wat die verdagte se naam is, wanneer hy gearresteer is en wanneer hy weer in die hof moet verskyn nie. Sy raad was om self met Oelofse se naasbestaandes in kontak te kom en dié inligting te bevestig.

Verdere navrae rondom die vlaag van inbrake by hotelle en gastehuise is met dieselfde antwoord begroet. Mabata het, in ‘n ongehoorde stap, die koerant aangeraai om self in kontak te kom met die verskillende ondersoekbeamptes. (Volgens die polisie se eie regulasies mag geen lid buiten ‘n gemagtigde kommunikasiebeampte aan die media inligting verskaf nie.) Daar is aan Mabata verduidelik dat die hoteleienaars die koerant genader het uit radeloosheid, omdat hulle self nie weet of daar vordering is in hul sake nie. Daar is ook aan hom uitgewys dat “die saak word ondersoek en is in ‘n sensitiewe stadium”, die standaard antwoord is wat aan die media gegee word en geensins help om inwoners gerus te stel rakende die polisie se vermoëns nie.

Mabata is ook gevra om te bevestig of die polisie bewus is van die gewapende roof wat Dinsdag by die Absa bank in Louis Trichardt aangemeld is. Hy het Woensdag bevestig dat hy later aan die navrae aandag sou gee, as hy klaar was met sy werk by die polisie se uitstalling by die Makhado Skou.

Een van die probleme waarmee die plaaslike polisiestasie moet worstel, is die gebrek aan personeel in top bestuursposte. Hierdie aanstellings sloer al vir etlike maande. In November verlede jaar is kol. Eddie van der Walt as die nuwe groepsbevelvoerder van die Makhado SAPD aangestel. Sover die koerant kon vasstel is Van der Walt sedertdien verplaas na Musina. Een van dié belangrikste poste by die stasie, die van stasiebevelvoerder, het tans ook net ‘n tydelike aanstelling in die persoon van lt-kol. Tshililo.

News - Date: 30 July 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: