ADVERTISEMENT:

 

Ultimate Guest House was een van die gastehuise waaroor die Zoutpansberger berig het aan die einde van Julie. 

Misdaad weer vasgevat

 

Die Makhado Polisie is besig om bestuur op plaaslike vlak aan te spreek.

Sowat drie weke gelede het die Zoutpansberger berig oor gebrekkige kommunikasie en vakante posisies in die plaaslike polisie se top bestuursposte. Tans word aanstellings gemaak ten einde die leisels weer stewig vas te vat.

Die koerant het hierdie week weer navrae gerig aan die polisie, nadat dit aan die lig gekom het dat rowers weer toegeslaan het by die Adam’s Apple Hotel. Pest Control Specialists in Louis Trichardt het ook verlede Donderdag die slagoffers geword van misdaad. Diewe het by hulle perseel in Andersonstraat ingekom en hulle werksbakkie uitmekaar gehaal en die onderdele gesteel wat hulle benodig het. “Hulle was darem so gaaf gewees om vir ons die battery agter te laat,” het mev. Dawn Smit dié week opgemerk. Dit is ‘n nuwe battery.

Niemand is nog aangekeer in verband met hierdie saak, of enige van die vorige gevalle waar daar ingebreek is by ander hotelle en gastehuise, nie. In die koerant se uitgawe van 29 Julie is daar melding gemaak van ‘n spesiale vergadering wat hoteleienaars gehad het met die polisie om dié inbrake aan te spreek. Daar is toe ook by die polisie gepleit vir hulp.

Daar word vermoed dat dit dieselfde groep inbrekers is wat by die verskillende hotelle inbreek. Die eienaars was radeloos, omdat hulle al sedert Mei gebuk gaan onder dié rampokkers, en hulle het gevoel die polisie se ondersoek bly net “in ‘n gevorderde stadium.”

In die artikel is daar berig oor mnr. Marius en mev. Inga Gilfillan van die Lalapanzi Hotel wat al twee keer beroof is. Hulle beeldmateriaal van die inbrake, in beide gevalle, is by meer as een geleentheid beskikbaar gemaak aan die polisie. Dit was vir hulle ‘n groot teleurstelling gewees toe hulle uitgevind het dat daar nie aandig gegee is aan die videomateriaal nie.

Die goeie nuus is egter dat inwoners maar bietjie ‘n sug van verligting kan slaak, danksy hernude ywer van die Makhado polisie. Daar is verneem dat die rede hoekom daar nooit gehoor word van enige arrestasies in verband met misdade nie, is omdat daar wel fout was in die kommunikasiekantoor. Hierdie probleme word ernstig aangespreek en behoort een van die dae iets van die verlede te wees.

Daar is hierdie week ook bekend gemaak dat die stasie weer ‘n nuwe bevelvoerder aangestel het. (Teen druktyd was die koerant nog besig om ‘n onderhoud te reël).

Verder is daar ook bekend gemaak dat inbrake en diefstal, nie net in Louis Trichardt nie, maar ook deur die hele streek, vasgevat gaan word. Wat die inbrake en diefstalle by hotelle en gastehuise betref, is daar glo ‘n spesiale taakmag op die been gebring om dringend werk te maak van die ondersoek. Gastehuise so ver as die Thohoyandou-area word ook beroof.

Daar word gehoop dat daar binnekort oor arrestasies berig kan word.

News - Date: 22 August 2016

Recent Articles

Search for a story:

 

Lalapanzi is nog 'n hotel wat al beroof is in dié jaar.

Lalapanzi is nog 'n hotel wat al beroof is in dié jaar. Hierdie beeldmateriaal is verkry van 'n sekuriteitskamera wat wys hoe twee rowers besig is om 'n kasregister oop te forseer.

Ultimate Guest House was een van die gastehuise waaroor die Zoutpansberger berig het aan die einde van Julie. 

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: