ADVERTISEMENT:

 

Die probleem van wegholveldbrande het sedert die begin van Augustus die plaaslike brandweer en gemeenskap al lekker laat bontstaan. Hierdie vuur, wat in die vleiland langs Groblerstraat in Louis Trichardt ontstaan het gedurende die eerste week van Augustus, het byna-byna geboue en infrastruktuur in puin gelê.

Wegholveldbrande hou al groter gevaar vir streek in

 

Inwoners moet met erns daarvan kennis neem dat ‘n totale brandverbod op die maak van oop vure reeds vanaf 11 Augustus in die Soutpansberg van krag is.

Uiters droë veldtoestande, weens ‘n gebrek aan reën die afgelope jaar, het hoofsaaklike daartoe bygedra dat wegholveldbrande vanjaar ‘n besonderse groot gevaar vir veral boere inhou.

Die afgelope week het inwoners net oos van Leeustraat in Louis Trichardt twee benoude aande beleef, met dik rookwolke wat hulle na hul asems laat snak het weens veldbrande in die oop veld net wes van Leeustraat. 'n Paar weke gelede het ‘n wegholveldbrand in die vleiland langs Groblerstraat byna-byna derduisende rande se skade aan geboue en infrastruktuur aangerig, was dit nie dat die vlamme net betyds onder beheer gekry kon word nie.

Volgens mnr. Fritz Ahrens, voorsitter van die Louis Trichardt Boerevereniging, het hulle genadiglik nog nie te doen gekry met ‘n groot veldbrand nie. “Ons het so amper ‘n groot brand gehad by die Wilsons se plaas bo-op die berg verlede week. ‘n Groep onwettige hondejagters is op die plaas langsaan betrap, en toe boere die honde van die jagter afgekeer kon kry om hulle van kant te maak, het die jagter die veld aan die brand gesteek,” het Ahrens gesê.

Afgesien van bogenoemde voorval, het Ahrens gesê, bly die grootste sondebokke wat die oorsaak van wegholveldbrande betref mense te wees wat wilde byeneste van hul heuning wil stroop. “Die mense gebruik brandende sakke of buitebande om die bye uit te rook. Dit gebeur egter telkens dat die bye die mense oorval en hulle die brandende sakke en bande net so in die veld los as hulle weghardloop,” het Ahrens gesê. Nog sondebokke is mense wat oop vure langs die pad maak om warm te bly vroegoggend wanneer hulle vir rygeleenthede staan en wag.

Volgens Ahrens is hulle deurlopend op ‘n gereedheidsgrondslag wat veldbrande betref. “Ons vra egter dat alle boere hulle bakkiesakkies diens. Baie van hierdie bakkiesakkies staan al vir ‘n jaar lank. Vervang die vonkproppe en tap nuwe brandstof in. Die hoofoorsaak waarom baie boere nie spoedig kan reageer as daar ‘n brand ontstaan nie, is omdat die kragopwekkers wat die drukpomp op die bakkiesakkie aandryf, nie wil aanskakel nie,” het Ahrens gesê.

Ahrens het alle boere ook gemaan om hulle te vergewis van wetgewing wat op boere van toepassing is ten opsigte van brandbestryding. “Boere moet rugsakspuite, vuurplakke en vuurharke hê. Baie belangrik - as jou grond groter as 50 ha is, moet jy ‘n bakkiesakkie hê,” het Ahrens gesê.

Ahrens het ook boere wat van plan is om hulle veld te brand, vermaan om die regte prosedure te volg. “Hulle moet ‘n permit bekom daarvoor by die Makhado Fire Protection Association. As jy moet brand, en indien jy ‘n permit bekom het, probeer ook die veld brand vanaf Maandag tot Donderdag, sodat jy Vrydag doeltreffend kan skoonmaak en seker maak die vuur is dood. Dit gebeur telkens dat vure oor naweke opvlam omdat dit nie voldoende geblus is nie. Maak veral seker van smeulende boomstompe en bees miskoeke,” het Ahrens gesê.

Die ergste veldbrande kom tradisioneel gedurende September en Oktober in die Soutpansberg voor. Ahrens het almal se samewerking gevra wat die bekamping van wegholveldbrande betref. “Die skade word nie net tot die boer beperk nie. Oor die langtermyn word die hele gemeenskap deur verwoestende veldbrande geraak,” het Ahrens gesê.

Om ‘n permit te bekom om veld te brand, kan boere Natasha van die Makhado Fire Protection Service skakel by tel. 082 578 4726.

News - Date: 25 August 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: