ADVERTISEMENT:

 

Stefan van den Heever (24) en sy meisie Chané Crous (18)

Hul verhaal dien as inspirasie vir talle

 

Die artikel oor twee gerehabiliteerde dwelmverslaafdes van Louis Trichardt het van heinde en verre reaksie uitgelok.

Die Zoutpansberger het op sy voorblad van 12 Augustus die hartroerende storie vertel van Stefan van den Heever (24) en sy meisie Chané Crous (18). Behalwe vir die tweede kans wat die paartjie nou het, nadat hulle al meer as ‘n jaar skoon is van dwelms, het Stefan ook die sluier gelig oor Louis Trichardt se dwelm-onderwêreld.

Inwoners was geskok om te lees dat dwelmhandelaars nie skroom om aan tieners dwelms te verkoop nie en dit selfs by die skole gaan aflaai. Stefan het onomwonde die dwelmprobleem in die dorp as ‘n "moerse probleem" beskryf.

Dit is juis Stefan se inligting oor dwelms wat vrylik onder jong kinders verkoop word, wat lesers laat snak het na hulle asems. “Ek was nie eers daarvan bewus dat daar ‘n dwelmprobleem in die skool is nie, en hy [Stefan] was net ‘n paar jaar jonger as ek. Dit is regtig skokkend,” het een leser opgemerk. Volgens Stefan weet hy van meer as een geval waar kinders dwelms bestel het by ‘n handelaar, wat dit dan vir sy “kliënte” gaan aflewer het by hulle skool.

Chrizel Siemens was net so verbaas gewees. “Dit kan nie waar wees nie, hy was saam my op skool in Louis Trichardt!” het sy gesê.

Ná die berig verskyn het is Stefan en sy pa, Conrad, oorval met oproepe. Daar het mense van Johannesburg en selfs die Kaap geskakel om hulp. Ander het weer net geskakel om vir Stefan en Chané persoonlik dankie te sê vir hulle bemoedigende storie en sterkte toe te wens vir die toekoms.

Op Facebook het die paartjie se storie soos ‘n veldbrand versprei en is dit honderde kere gedeel met ander verbruikers. Selfs ander publikasies het die storie gedeel met hulle lesers.  

André Retief se boodskap het veral uitgestaan. Hy het na aanleiding van die berig vir Stefan die volgende geskryf: “Jy sal nooit besef hoe dankbaar ek is dat iemand hierdie duiwelsmag kon breek nie. Ek het iemand baie na aan my twee jaar gelede verloor as gevolg van dwelms. Ek weet die persoon is dalk beter af, maar mens het soveel gebid vir ‘n wonderwerk. Jou verhaal is ‘n wonderwerk. En dis soos my gebed wat beantwoord is. My vriend het dit ongelukkig nie gemaak nie, maar jy het. En dis ‘n massiewe getuienis dat God wel gebede beantwoord. My gebed vir jou is dat jy en jou meisie sterk sal bly, en dat julle verhaal ander sal inspireer om ook terug te baklei ... en mag julle nog baie ander help om ook deur die hel te kom.”

Stefan en Chané se keerpunt het gekom nadat hulle amper dood is van ‘n oordosis heroïne en hulle rehabilitasie ontvang het by ‘n staatsinrigting. Hulle het rehabilitasie ontvang by SANCA (South African National Council on Alcoholism and Drug Dpendence) se Horison Kliniek.

Conrad het verduidelik dat alhoewel dit ‘n staatsinrigting is, die Staat in uitsonderlike gevalle self sal betaal vir iemand se rehabilitasie. Hy het verduidelik dat daar ná die koerantberig party mense was wat onder die indruk was dat sulke rehabilitasie gratis is. “Ek noem dit net om te voorkom dat ander wat wel hulp wil vra nie afgeskrik word nie, en dat mense nie moet dink dat dit alles wel gratis  gedoen word nie,” het Conrad gesê. Hy is egter bereid om te help met inligting en om verwysings te maak as daar mense is wat sukkel om die regte rehabilitasiesentrum te kies of nie weet wat hulle te doen staan as hulle geliefdes verslaaf is aan dwelms nie.

Buiten vir die gemeenskap se oorweldigende reaksie, het die polisie ook hierdie week amptelik gereageer op navrae rondom beweringe dat hulle hande gevou toekyk hoe dwelms die dorp oorneem. Sien die berig hiernaas.  

 

News - Date: 29 August 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: