ADVERTISEMENT:

 

Van die goedere waarop die Makhado Polisie verlede week beslag gelê het. Die Makhado Munisipaliteit het glo van dié goedere uitgeken as onderdele van die munisipaliteit se waterinfrastruktuur. Foto: Makhado Polisie.

Droë Kersfees?

 

Alle aanduidings is daar dat Louis Trichardt se inwoners ‘n droë feesseisoen in die gesig staar.

Dié stelling hou nie verband met die reën nie, maar wel met die feit dat inwoners se waterkrane vir die soveelste keer in November opgedroog het. Sommige dele van Louis Trichardt se water het alreeds verlede Donderdag opgeraak, met meeste van die dorp wat teen die naweek sonder enige water moes klaarkom.

‘n Raadslid vir die Demokratiese Alliansie, mnr. Brian du Plooy, het hierdie week bevestig dat die nuutste watertekorte teweeg gebring is as gevolg van nog waterlekke op die Albasinidam se pyplyn. Ten spyte daarvan dat daar onverpoosd gewerk is om die waterlekke reg te maak, was daar teen Woensdag steeds dele van Louis Trichardt wat sonder water gesit het.

Daar kon by die Vhembe Distriksmunisipaliteit (VDM) geen aanduiding gekry word oor noodplanne vir die besige feesseisoen nie.

Intussen het AfriForum se Louis Trichardt-tak hierdie week gesê die nuutste verwikkelinge verbaas hulle nie. “Ons het al lankal hierteen gewaarsku,” het takvoorsitter mnr. Wally Schultz gesê.

Volgens Schultz sal dit die vyfde agtereenvolgende Kersseisoen wees wat inwoners kroniese watertekorte sal ervaar gedurende die warm Desembermaand. “Ons regsaksie sal ‘n permanente oplossing bied, maar ongelukkig draai die wiele van geregtigheid stadig en kan dit ook nie onbevoegde en onwillige munisipale amptenare vervang nie,” het Schultz opgemerk. Weens AfriForum se voorneme om die VDM terug te sleep hof toe (die bal is glo aan die rol gesit), kon Schultz nie meer uitbrei oor die regsproses nie.

Intussen het die Makhado Polisie ‘n deurbraak gemaak, nadat hulle verlede week drie verdagtes aangekeer het vir vandalisering van die dorp se waterinfrakstruktuur. Die drie mans is vasgetrek nadat hulle skrootmetaal met ‘n geskatte waarde van R10 000 van die hand wou sit. Die materiaal het onder andere ingesluit waterpype en elektriese kabels.

Thomas Makhura (18), Derek Baartman (21) en Rudzani Malema (25) het verlede Woensdag vlugtig in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere en diefstal. Die klag van diefstal is kort ná hulle arrestasie deur die Makhado Munisipaliteit aanhangig gemaak, wat glo die gesteelde goedere uitgeken het as munisipale infrastruktuur.

Die drie is nie gevra om te pleit nie en sal in aanhouding bly tot later in Desember wanneer hul na verwagting ‘n borgaansoek sal bring.

 

News - Date: 05 December 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: