ADVERTISEMENT:

 

Lede van die Lugmagbasis Louis Trichardt tydens die oorhandiging van houtwerktoerusting aan die kinderhuis. (Foto: Die Kerkbode)

“Jy moet glo om dit te verstaan”

 

Die volgende berig het op 16 Januarie op die webtuiste van Die Kerkbode verskyn. Die artikel is geskryf deur die Kerkbode se redakteur, Neels Jackson. Toestemming is verleen dat dit net so in die Zoutpansberger mag verskyn.

“Die storie waarin God se naam nie genoem word nie.”

Só noem ouderling Andries Smal van die NG gemeente Louis Trichardt die verhaal wat die afgelope jaar by hulle afgespeel het.

Die agtergrond is dat hulle ’n paar jaar gelede opgemerk het dat daar ’n klomp Zimbabwiese kinders in hulle dorp se strate ronddrentel. Hulle het die Tshitandanikinderhuis gevestig en kort voor lank was daar geen straatkinders in Louis Trichardt oor nie. Tshitandani huisves nou sowat 35 kinders van tussen 12 en 20, byna almal Zimbabwiërs.

Om hierdie seuns konstruktief besig te hou, het hulle begin met ’n projek om mandjies te vleg. Dit het goed gegaan, maar die seuns het gevoel dis eintlik vrouewerk.

Dis toe dat Andries begin droom oor ’n houtwerkprojek vir die seuns. Dié droom het hy met ’n paar mense gedeel. Die organisasie Save The Children International het daarvan gehoor, maar hulle het nie geld begroot om daarmee te help nie. Toe pres Jacob Zuma egter sy minister van finansies in die pad steek en die markte reageer, val die wisselkoers so dat Save the Children skielik meer Rande tot hulle beskikking het. In Maart 2016 lewer hulle toe R34 000 se houtwerktoerusting by Tshitandani af.

Maar waar sou hulle die houtwerk doen? Daar was nie plek nie, toe begin hulle dink aan ’n skeepsvraghouer. Andries het die gedagte genoem aan iemand van die vroulike Rotariërs op die dorp. Dié wou weet wat kos so iets, en Andries sê drie jaar tevore was dit so R14 000. Toe skenk die vroue dié bedrag.

Maar toe hy begin navraag doen, kos ’n houer R34 000.

Die manlike Rotariërs hoor toe daarvan en kontak ’n humanitêre sentrum in Bedfordview wat ’n houer skenk. Al wat die kerk moes doen, was om die vervoer daarvoor Louis Trichardt toe te betaal.

’n Kontrakteur sê toe dit sal R18 000 kos, maar as hy ’n vol vrag in die ander rigting het, sal hy dit vir R10 000 doen. Toe bring iemand hulle in kontak met ’n ander kontrakteur wat ook ’n Rotariër is, wat dit vir R4 500 sal doen.

Op ’n Vrydagmiddag kry Andries ’n oproep. Die houer is in Louis Trichardt. Hulle moet dit net aݯaai. Inderhaas soek hy ’n hyskraanoperateur en die tweede een wat hy kontak, sê hy sal dit vir R2 500 doen.

Met toegewings van die munisipaliteit kon hulle vir R3 800 krag aanlê daarheen. Boonop stuur die vervoerkontrakteur uit Johannesburg vir hulle ’n faktuur vir R0,00.

Intussen het ’n vrou om heel ander redes by die gemeente om hulp gaan aanklop. Hulle kom toe agter sy is ’n opgeleide houtwerkinstrukteur. En ja, sy sal die seuns oplei – waarop Lawyers for Human Rights R20 000 gee om haar mee te betaal.

Daarby het die plaaslike lugmagbasis in die loop van die jaar gevra wat hulle vir Tshitandani kan doen. Toe werksbanke genoem word, maak die basis vir hulle vier met bankskroewe daarop.

So, sonder dat die verskillende mense in die verhaal van mekaar geweet het, het hulle saamgewerk om dit moontlik te maak dat die volledig toegeruste houtwerksentrum begin 2017 met opleiding kan begin. Boonop is daar van die oorspronklike skenking van R14 000 geld oor om hout te koop.

In die hele verhaal, sê Andries, word die Here se naam nêrens genoem nie. Hulle het Hom nie gevra hiervoor nie. En tog het hulle beleef hoe God die deure een na die ander vir hulle oopmaak. Hulle het ervaar hoe God alles voorsien.

En as hy terugdink oor al dié genade, voeg hy by: “Jy moet aan die Here behoort om dit te kan verstaan.”

Bron: Die Kerkbode

News - Date: 20 January 2017

Recent Articles

Search for a story:

 

Die vraghouer wat as houtwerksentrum ingerig is. (Foto: Die Kerkbode)

 

ADVERTISEMENT

 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

Email:

ADVERTISEMENT: