ADVERTISEMENT:

 

Wyle Jan de Bruyn (64).

Skok oor digter Jan de Bruyn se skielike dood

 
Bekende digter en sakeman, Jan de Bruyn, se skielike heengaan het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

De Bruyn het op Maandag, 15 Mei, in die vroeë aandure tuis aan ‘n hartaanval beswyk. Hy sou op 25 November vanjaar 65 geword het.

De Bruyn het ‘n ryk en vol lewe geleef. Hy was vroeër ‘n boer in die voormalige Rhodesië en ‘n akademikus wat Kriminologie gedoseer het by die Universiteit van Fort Hare en die Universiteit van Venda. Daarna het hy hom as sakeman in Louis Trichardt onderskei. Sy liefde vir poësie het deur alles soos ‘n goue draad gevleg.

“Ek het min mense in my lewe geken wat met soveel passie die poësie liefgehad het. Jan de Bruyn het met totale oorgawe sy eiesoortige poësie geskryf en met dieselfde oorgawe met alle poësie omgegaan,” het vriend en mede-digter Fanie Olivier Dinsdag gesê.

Jan de Bruyn se eerste twee digbundels, Vuurtent in die sneeu en Te Bruin vir Groen, is uitgegee deur Human en Rousseau in 1984 en 1987. In 2004 is sy derde bundel, Witvuurlig, bekendgestel.

“Wanneer mense ook afsterwe, verliese en verhoudingskrisisse beleef het, sal hulle met die verse kan identifiseer. Uiteindelik besef die leser dat ‘n mens nie net verdriet oorleef nie, maar dat ‘n mens groei vanweë verliese. Die lewe is nie net oor oorlewing nie, maar oor die groei wat moontlik word vanweë verliese en verskrikkinge,” het Jan de Bruyn met die bekendstelling gesê.

De Bruyn is verlede jaar genooi om sy verse voor te lees by Versindaba, die eerste groot Afrikaanse Poësiefees, wat in September in Stellenbosch gehou is. By dié geleentheid het hy sy eerste hartaanval beleef, maar later baie goed herstel.

Hy sou op Vrydag, 19 Mei, in Pretoria ‘n gedig voorlees wat hy geskryf het vir die honderdjarige viering van Winternag van Eugene Marais. Tydens ‘n onderhoud hieroor op 12 Mei het hy gesê dat hy baie gesond voel en ook nuwe besighede in die oog het.

As sakeman en tipiese entrepreneur, het De Bruyn altyd ‘n geleentheid vir ‘n nuwe besigheid raakgesien en Vodacom Gemeenskapsfone, Sophie’s Choice en I-Connect internet konneksie tel onder ‘n paar van hulle. Hy was ook nou betrokke by Ridgeway College se stigting en beheerraad. Een van sy vennote sê dat hy ‘n baie goeie besigheidsman met ‘n verskriklike groot hart was. Hy het baie mense finansieel bygestaan. Hy het altyd sy waardering aan sy vennote en werknemers getoon en aan hulle goed gedoen, al was dit ten koste van homself.

Daarmee stem sy familie saam. Sy vrou se dogter, Christina Storm, sê dat sy haar stiefpa sal onthou as ‘n vrygewige mens wat baie mense gehelp het en hulle lewens aangeraak het.

“Hy was vir 25 jaar my pa. Ek kon hom altyd met enige probleem bel en dan het hy ‘n wyse antwoord gehad,” sê Christina. Jan se hartseer eggenote, Kitty, sê dat dit die grootste voorreg was om Jan te kon geken het.

Die gesin het reeds onderhandel met ‘n uitgewer om twee digbundels ter herinnering aan De Bruyn uit te gee.

Jan de Bruyn laat sy vrou, Kitty, sy kinders Theuns en Sonja, Kitty se twee dogters, Christina en Willemien, en altesame sewe kleinkinders agter.

Daar word twee gedenkdienste gehou, die eerste op Donderdag, 18 Mei, om 11:00 by Café D’Art en die tweede op 19 Mei in Pretoria.

News - Date: 19 May 2006

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: