ADVERTISEMENT:
‘n Bekende oud-Soutpansberger, Rike Olivier, is verlede week na ‘n lang siekte oorlede. Sy was 61 jaar oud.
Rike is in 1989 met Fanie Olivier, destydse professor aan die Universiteit van Venda (UNIVEN), getroud en het haar ‘n jaar later op Louis Trichardt kom vestig. Sy was ‘n senior lektrise in Afrikaans en in Nederlands by Univen.
Rike was die dogter van die befaamde literator Rob Antonissen en het aan Rhodes-universiteit en die Katolieke Universiteit Leuven (in België) studeer. Na baie jare as dosent by Rhodes, was sy vir enkele jare aan Wits verbonde voordat sy hierheen verhuis het. Ouer lesers sal hulle die elegante Zoete Inval-gastehuis in Krugerstraat onthou wat onder Rike se toesig gestaan het.
Rike het ‘n besige en uitgebreide akademiese navorsingsgeskiedenis gehad. Sy het onder meer referate gelewer by internasionale kongresse in Leuven, Leiden en Utrecht in Nederland, Edinburgh (Skotland), Lahti (Finland) en Sydney (Australië). Rike het ook artikels en resensies in verskeie vaktydskrifte en koerante gepubliseer. ‘n Paar kortverhale deur haar is ook in versamelbundels gepubliseer en sy het as taalpraktisyn uitgeblink. Sy het onder meer Breyten Breytenbach se ‘n Seisoen in die paradys in Engels vertaal.
Terwyl sy as professor werksaam was by die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznan, Pole, is sy vroeg in 2005 gediagnoseer met primêre progressiewe afasie, ‘n aftakelende en raar breinaandoening waardeur sy geleidelik die vermoë om te praat, verstaan en lees verloor het. Mettertyd tas die siekte ook die pasiënt se fisiese toestand aan. In die middel van 2005 is sy medies ongeskik verklaar.
Onder daardie omstandighede het sy en Fanie aan die begin van 2006 na Suid-Afrika teruggekeer en hulle op Pennington aan die KwaZulu-Natalse Suidkus tuisgemaak. Sy is tuis versorg en het op 28 Junie onder kwaai verdowing in haar slaap gesterf. Sy word oorleef deur Fanie, haar moeder in Grahamstad, haar kinders uit ‘n vorige huwelik, Catherine (in Tanzanië) en Robert (in Londen), en twee susters, Helga (Kaapstad) en Elsje (Sydney).
Fanie het rondom haar afsterwe die volgende gedig geskryf:
en god as hy bestaan ...
neem haar na die soet soel dal
van warm skaduwees van malse gras waar
die sleutel in haar hand op alle deure pas
die paar gebare om haar skielik duisend
vlerke kry skitterend met betekenis verbind
waar sy kan sluk van verbasing alles
met ligte tred kan betree haar lyf
soos altyd met oorgawe elke haar
getel en op sy plek (sy weet, wees
haar daarom ook nou seer welgesind
en druk haar vas soos ‘n ma haar nuwe kind
styf en teer) laat haar toe om in u son
te lê net ‘n uur per dag tussen elf
en twee gun haar ‘n huis om te bedryf
‘n oond waarin sy kan bak en brou
die tafel keurig gedek servette fyn gevou
kristal waaruit die wyn sommerso vanself
sal afloop in haar keel en laat haar onbesonne
lag, o Here, laat haar weer lag en as dit by u mag
ook onbedaarlik huil
maar op my knieë veral
o God, veral: laat woorde vir haar sin maak, oweral
- vir jou, my vrou 28/29 Junie 2007
News - Date: 06 July 2007