ADVERTISEMENT:

 

Selfmoord: wat is die gevaartekens?

 

Die kwessie rondom selfmoord is nou weer onder bespreking na die dood van Heath Ledger en die skokkende nuus van 13 jongmense in Suid-Wallis, Brittanje, wat onder aanmoediging van mekaar almal binne ‘n jaar selfmoord gepleeg het.

Dit is onrusbarend dat selfmoord nie net toeneem nie maar ook ‘n "aansteeklike" uitwerking op ‘n groep of gemeenskap het. Een selfmoord of selfmoordpoging gee dikwels aanleiding tot ‘n volgende.

Agt uit tien selfmoord gevalle het duidelike tekens gehad van hul voorneme om selfmoord te pleeg. Hier volg ‘n paar tekens om voor op die uitkyk te wees:

* Ernstige depressie.

* Onttrekking van familie en vriende en die samelewing.

* Skielike verandering in slaap- en eetgewoontes (abnormale afname of toename in voedselinname).

* Onvermoë om te konsentreer en onvermoë om stil te sit.

* Verwaarlosing van persoonlike netheid.

* Persoonlikheidsveranderinge soos byvoorbeeld skielike aggressie of stilstuipe.

* Gemaskeerde depressie kan ook voorkom waar iemand homself as nar voordoen.

* Misbruik van drank, dwelms en verdowingsmiddels.

* Verloor belangstelling in iets wat voorheen uiters belangrik was soos byvoorbeeld in ‘n troeteldier.

* Begin om persoonlike besittings weg te gee.

* Dreigemente van selfmoord.

* Kla gereeld van fisiese simptome soos hoofpyn, rugpyn ensovoorts.

* Veral mans begin fanaties raak oor hoë-risiko sport, ry ‘n onverskillige spoed en bestuur onder invloed van drank. Dit kan bewuste of onbewuste selfmoordgedrag wees.

* Vordering na ‘n tydperk van depressie - Nou het die persoon meer energie om die daad te doen. Persone met depressie se gemoedsverandering kan van positief na negatief verander binne oomblikke.

* ‘n Ware ongeluksvoël - op hierdie manier kan hul aandag kry.

* Maak onverskillige grappe oor die dood en selfmoord.

* Sê reguit dat hul selfmoord gaan pleeg of sê dat hul nie meer wil leef of dat die wêreld ‘n beter plek sonder hulle sal wees.

* Sensasiesoekers en tieners wat deelneem aan hoë-risiko gedrag. Talle "ongeluk" sterftes is in werklikheid gemaskeerde selfmoord.

Daar is twee hoofgroepe van selfmoordpogings. ‘n Openlike en verskuilde selfmoordpoging. ‘n Openlike selfmoordpoging behels dat ‘n persoon fisies poog om hulself dood te maak en ‘n verskuilde selfmoordpoging kan behels die oormatige misbruik van drank en dwelms, ooreet of niks eet nie en ´n losbandige seksuele lewe. Dit is selfdestruktiewe gedrag.

Die persoon wat selfmoord oorweeg, kan egter met liefde en begrip gehelp word. Mens moet verstaan dat dit wat die persoon glo die oorsaak van sy toestand is, weinig die werklikheid of waarheid is. Sy brein se waarneming word beïnvloed deur sy emosionele toestand. Toon begrip vir hierdie persone se emosies en deurmekaar gedagtes. Vestig hul aandag voortdurend op die positiewe en bedien hulle met aanmoediging en bemoediging.

Almal wat depressie het, pleeg nie selfmoord nie, maar hierdie tekens behoort mens bedag te maak op geliefdes se behoeftes en hulle diep emosionele pyn wat hul nie noodwendig kan deel nie, maar wat manifesteer in hul gedrag.

As daar vermoed word dat iemand selfmoord wil pleeg, praat reguit daaroor. Dit sal hul nie die idee gee om selfmoord te pleeg nie. Dit sal eerder ‘n verligting wees dat daar iemand is wat genoeg omgee om met hul te praat oor hierdie diep seer.

Dit is ‘n leun dat almal wat ‘n selfmoordpoging oorleef het net wou aandag trek. Dit is ‘n noodroep na iemand wat hul diep innerlike pyn sal verstaan.

(Bogenoemde artikel is verskaf deur Daleen Venter. Vir meer inligting kan sy geskakel word by tel. 082 552 1283).

News - Date: 22 February 2008

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: