ADVERTISEMENT:

 

Digter Jan de Bruyn met sy nuwe digbundel, Witvuurlig.

Jan de Bruyn stel derde digbundel bekend

 
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Die derde digbundel van plaaslike digter, Jan de Bruyn, word hierdie week bekend gestel.

Die bundel Witvuurlig bevat persoonlike gedigte wat na heelwat van die gebeure in die digter se lewe verwys. Daar is aangrypende verse oor kinders en kleinkinders wat tot baie mense sal spreek. Verder sal mense wat afsterwes, verliese en verhoudingskrisisse beleef het, met baie verse in die bundel kan identifiseer. Uiteindelik besef die leser dat 'n mens nie net verdriet oorleef nie, maar dat 'n mens groei vanweë verliese.

"Die lewe gaan nie net oor oorlewing nie, maar oor die groei wat moontlik word vanweë verliese en verskrikkinge," sê de Bruyn.

Professor Fanie Olivier, bekende letterkundige en digter, sê van Witvuurlig: "Dit is verse wat aansluit by Jan se ander bundels in terme van toon en inhoud en is in daardie opsig 'n voortsetting van sy eiesoortige stem in Afrikaans. 'n Mens kan sê daar is ontroerende verse rondom die seerkry in verhoudings." Van dié verse wat diep ontroer, sluit in die verse rondom die verlies van kinders by egskeiding.

Witvuurlig bestaan uit sowat 60 gedigte, in vyf dele. Die derde deel het die titel Die Som Van Een en dit was aanvanklik die werkstitel van die bundel omdat dit in 'n sekere opsig die som van een persoon se lewe is. Die gedigte is oor 'n tydperk van 30 jaar geskryf en die laaste en vyfde deel is oor die laaste sewe jaar geskryf.

"Die laaste deel van die bundel bevat sterk religieuse verse wat nie netjies tuisgebring kan word volgens tradisionele opvattings van godsdiens nie," sê Olivier.

Die uiteindelike titel, Witvuurlig, het ontstaan in 'n gedig wat 'n samevatting is van die reis wat die digter afgelê het om te wees waar hy nou is. Die titel vind weerklank in die voorbladontwerp, wat deur Christina Storm gedoen is.

De Bruyn se vorige twee digbundels Vuurtent in die sneeu en Te Bruin vir Groen is uitgegee deur Human en Rousseau in 1984 en 1987. Die idee van 'n derde digbundel het ontstaan met die bekendstelling van die Groot Verseboek waarin van De Bruyn se gedigte opgeneem is. By dié geleentheid is hy gevra om 'n gedig van hom voor te lees. 'n Uitgewer het hom ook gevra vir 'n manuskrip van sy gedigte. Hierdie keer het De Bruyn egter besluit om nie weer op die gewone manier in Afrikaans te publiseer, maar om die bundel self uit te gee.

Eksemplare van Witvuurlig kan bestel word by tel. 0844 882 911 of Jan de Bruyn, Posbus 88, Louis Trichardt of [email protected] Die bundel sal ook eersdaags aangekoop kan word by Sophie's Choice.

News - Date: 14 May 2004

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: