ADVERTISEMENT:

 

Sheryl (links) en pa Chris speel gereeld saam en vir verskillende spanne polocrosse. Foto verskaf.

Ruiter en perd rehabiliteer op die ou einde mekaar

 

‘n Uur is eintlik te kort om iemand te leer ken, maar desnieteenstaande het die koerant nader kennisgemaak met Sheryl James.

As dié 29-jarige vrou eers lostrek en oor haar liefde vir perde begin praat, is daar geen keer aan haar nie. Haar passie vir die sport polocrosse, wat nog nie so bekend is in Louis Trichardt nie, borrel oor by haar. Wat haar storie uniek maak, is dat Sheryl gedeeltelik verlam is aan haar regterkant, wat perdry vir jare net ‘n droom by haar gemaak het. Nou ry sy al vir meer as 14 jaar lank perd, en kan sy kers vashou hou by enige een van haar spanlede. Nasionaal is Sheryl die enigste gestremde persoon in 'n span, en haar spanmaats sê sy is ‘n vurige ruiter om mee rekening te hou.  

Vir die donkerkop was daar ‘n 10-jaar-lange geestespad wat sy moes stap voordat haar polocrosse loopbaan begin het. Haar ouers, Sandy en Chris James, het reeds 18 jaar vantevore begin polocrosse speel. Baie sal vir Chris ken vir sy byeboerdery wat hy bedryf van die gesin se plaas in die Witvlag-area.

Weens haar gebrek was pa Chris nie bereid om vir Sheryl toe te laat op ‘n perd nie, omdat haar balans geaffekteer is en ‘n perd haar maklik kan afgooi.

Sheryl onthou nog goed hoe sy gebrand het om ook op ‘n perd se rug te spring en dit in haar gewoel het as sy elke keer die toeskouer moes wees. “Dit was niks lekker om na my broers en ouers te kyk as hulle so lekker gespeel het nie. Ek was kwaad gewees, maar het later besef ek moet bid oor die saak. Ek het God gesmeek om my ook ‘n kans te gee,” sê Sheryl.

In 2001 is haar gebede beantwoord en is daar ‘n perd oor haar pad gestuur. Een van haar broer se perde waarmee hy deelgeneem het, Impulse, het ‘n gebreekte been opgedoen. Gedurende die volgende twee jaar het Impulse Sheryl se perd geword en, sê sy, het hulle mekaar gerehabiliteer.  

Dit was nie altyd ‘n maklike pad nie. Elke dag moes Impulse geoefen word en die lam been gemasseer word. Partykeer het dit Impulse amper die hele dag gevat om die kort entjie tussen die stalle en die huis af te lê. Dan moes Sheryl maar water aandra en weer dokter.

Op ‘n dag, gedurende 2010, het Sheryl haar eerste kans gekry om alleen te ry. Daardie eerste paar ritte was ‘n belewenis, en ook nie sonder voorval (of ‘n val of twee, of drie) nie. “God het ‘n gebreekte perd en ruiter gevat en ‘n wonderwerk verrig.”

Dit was nie lank nie of Impulse het gekompenseer vir Sheryl se swak balans. Dit het bietjie oortuiging gevat, maar toe pa Chris eers sien hoe sy kán perdry, is Sheryl toegelaat om ook polocrosse te speel.

Vandag speel Sheryl nie net dat die stof so staan nie, sy is ook aktief betrokke by bewusmakingsgeleenthede vir polocrosse. “Dit maak nie saak hoe gebroke ‘n mens is nie – jy hoef nie eens die beste van atlete te wees nie – almal kan polocrosse speel en daarby baat. Perdry alleen hou ook baie voordele in vir die liggaam, emosies en siel.”

‘n Hoogtepunt vir Sheryl hierdie jaar is dat sy die komende naweek sal deelneem aan die openingswedstryd tydens die Polocrosse Wêreldkampioenskappe wat in Durban gehou sal word. Sheryl en nog ‘n ontwikkelingsspeler, Pat Nkosi (35) van Ermelo, sal in diefselfde span speel om mense bewus te maak van die geleenthede wat die sport inhou.

Pat se storie, sê Sheryl, wys ook dat enige iemand kan polocrosse doen. Hy het as ‘n jong staljong belangstelling getoon in perde en in 1993 sy eerste wedstryd gespeel. Behalwe dat hy al menige keer sy provinsie verteenwoordig het, het Pat ook al Suid-Afrika verteenwoordig teen Nieu-Seeland in 2004. Hy is ook gekies as ‘n reserwe speler vir die Suid-Afrikaanse Wêreldbekerspan wat hulle titel moet verdedig dié naweek.

Plaaslik kan die Limpopo Crusaders Polocrosseklub, waaraan Sheryl behoort, gekontak word vir maniere om betrokke te raak. Die klub is aktief betrokke by nasionale geleenthede, die reël van plaaslike toernooie en oefenwedstryde, asook die ontwikkeling van die sport.

Vir meer inligting kan Marius geskakel word by 082 878 7202, Sandy by 084 506 3333 of Chris by 083 289 3099.

Sport - Date: 03 July 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Sheryl James saam met haar huidige, Magic, wat pure magic is op 'n polocrosse veld.

Pat Nkosi (35), links, sal hierdie naweek een van Sheryl se spanmaats wees tydens die openingswedstryd van die Polocorsse Wêreldkampioenskappe wat in die Durban gehou sal word. Pat het, net soos Sheryl, lank moes wag en hard werk voordat hy kon begin polocrosse speel. Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: