ADVERTISEMENT:

 

Louis Trichardt se eerstespan moes Saterdag die knie buig voor Noordelikes se eerstespan in die Boet Fick-finaal. Hulle kan egter steeds trots wees om as naaswenners uit die liga te tree.

Bloues naaswenners in Boet Fick-liga

 

Louis Trichardt se “Blou Masjien”, oftewel die eerste rugbyspan, moes die naweek die knie buig teenoor Noordelikes van Polokwane, maar tree steeds as naaswenners van die Boet Fick-liga uit die stryd.

Van meet af aan was dit duidelik dat die kragmeting tussen die twee eerstespanne ‘n titaniese stryd sou oplewer. Noordelikes se wen die naweek maak van hulle vir die negende opeenvolgende jaar die kampioene in dié liga.

Saterdag se wedstryd het afgeskop ten spyte van beurtkrag en is op ‘n mistige veld beslis. Louis Trichardt se manne in blou het in die openingsminute punte aangeteken toe Wikus Davel ‘n drie gaan druk het. Noordelikes het egter vinnig die bordjies verhang.

Van Louis Trichardt se meer ervare spelers moes die wedstryd uitsit weens beserings. Teen halftyd was die telling 10-5 in Noordelikes se guns. Louis Trichardt het toe al twee geleenthede vir ‘n strafskop pale toe gemis, en het gewys dat ervaring kortkom.

In die tweede helfte het Louis Trichardt amper die agterstand ingehaal met behulp van strafskoppe, tot 15-14. Davel moes egter die veld verlaat, nadat sy kakebeen afgeskop is. Noordelikes het hierdie kans met albei hande aangegryp en het ‘n vinnige drie aangeteken wat hulle ook verdoel het.

Met die blaas van die eindfluitjie was die telling 22-14 in Noordelikes se guns. Alhoewel hulle verloor het, het talle ondersteuners Louis Trichardt se Bloues op die skouers geklop, want sleg een verdoelde drie kon die prentjie heelwat anders daar laat uitsien het.

Louis Trichardt se klubvoorsitter het ná die wedstryd gesê dat die dorp absoluut trots is op hul jongmanne wat hierdie seisoen gespeel het. “Ons het daarin geslaag om die halfeindrondte met ons tweedespan te bereik en uiteindelik bo-aan die punteleer te eindig met ons eerstespan, en ‘n finaal te speel op die tuisveld. Wel gedaan, ouens,” het Kevin Gilbert gesê.

Gilbert het ook die mense en borge bedank wat agter die skerms gewerk het om van die klub en hierdie rugbyseisoen ‘n sukses te maak. Hy het die volgende mense bedank: Henk van Belta Services wat ‘n kragopwekker beskikbaar gestel het, PD Otto Elektries wat dit gekonnekteer het, klubafrigter Gideon van Zyl, spankaptein Ruan Muller, spanverteenwoordiger Bertie Swanepoel, BB Mount Fuji Motors, Soutpansberg Spar, Werda Toyota, SAB, Talisman, Mr Clean Dry Cleaners, Trio Pompe en Leach Printers.

Sport - Date: 03 July 2015

Recent Articles

Search for a story:

 

Wikus Davel lê aan vir die pale.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: