ADVERTISEMENT:

 

Die groep pluimbalspelers wat die afgelope naweek deelgeneem het aan die Junior Geslote Pluimbaltoernooi op Lugmagbasis Louis Trichardt vertoon trots die medaljes wat hulle ingepalm het. Foto verskaf.

Junior pluimbalspelers spook sake op basis uit

 

Junior pluimbalspelers vanoor die hele Limpopo het Saterdag, 23 April, by die Kremetartsaal op Lugmagbasis Makhado buite Louis Trichardt saamgetrek vir deelname aan die Junior Geslote Pluimbaltoernooi.

Dit was ‘n unieke geleentheid, aangesien dit die eerste keer in nege jaar is dat so ‘n toernooi in Limpopo aangebied is. Die kinders kon in twee ouderdomsgroepe, naamlik O/14 en O/19, inskryf.

Louis Trichardt is goed verteenwoordig tydens die toernooi. In die enkelspel vir meisies O/14 is dit Jessica Smit van Laerskool Louis Trichardt (LS LTT) wat ‘n eerste plek losspeel. Tweede is Shannri Lombard, ook van LS LTT. Die enkelspel vir seuns O/14 word gewen deur Benjamin de Waal van Hoërskool Louis Trichardt (HS LTT), met Aaron John van Pemps Polokwane in die tweede plek.

In die dubbelspel vir meisies O/14 is dit weer Jessica, met spanmaat Abigail Scheepers (tuisonderrig), wat met die louere wegstap. Tweede is dit ook weereens Shannri, met spanmaat Amaris Nortje (LS LTT). Weens die feit dat daar so min dogter beskikbaar was, het Amaris saam met Shannri gespeel. Enkelspelwenner Benjamin, met spanmaat Bradley Breytenbach (HS LTT), wen ook die dubbelspel vir seuns O/14. Vivek Cherian (Pemps) en Aaron is tweede.

Benjamin palm sy derde eerste plek die dag in, toe hy en spanmaat Jessica Smit (LS LTT) ook die O/14 gemengde dubbelspel wen. Tweede is Rikus Smit (LS LTT) en Abigail.

Wat die ouer kinders betref, wen Ester Roy (Rusplaas Christian Model School Lebowagomo) die enkelspel vir meisies O/19. Ongelukkig was daar geen ander O/19-meisies by die toernooi nie.

Die enkelspel vir seuns word gewen deur Varun Cherian (Mitchell House Polokwane), met Dirk de Waal (HS LTT) in die tweede plek. Varun palm ook, saam met Ester, die dubbelspel vir seuns O/19 in, met Dirk en Benjamin Scheepers (tuisonderrig) in die tweede plek.

“Die Limpopo Pluimbal Assosiasie wil graag vir die Blompjesvlei hartlik bedank vir die borg van die medaljes wat aan die kinders oorhandig is,” het die organiseerders van die toernooi gesê.

Sport - Date: 29 April 2016

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: