ADVERTISEMENT:

 

Douglas Archer (middel) was algehele wenner van die junior manskategorie. Tweede was Marno van Zyl (links) en derde Arno van Dyk (regs). Foto verskaf.

Top podium plekke vir ryers tydens Rhino-trap

 

Louis Trichardt se jong bergfietsryers het nie net die dorp goed verteenwoordig by die Rhino Trail XCO nie, hulle het ook ‘n paar top podiumplekke ingepalm.

Die wedrenne het op 30 April in die Polokwane Natuurreservaat plaasgevind, met die ryers wat volgens ouderdomsgroepe in vier wedrenne teen mekaar te staan gekom het.

Te midde van goeie prestasies deur van sy mederyers, het plaaslike ster Kombo Bere van Hoërskool Louis Trichardt (HS LTT) nie ‘n goeie dag beleef nie. Hy kon nie sy wedren, die vierde wedren van die dag, in die junior manskategorie voltooi nie, nadat hy sy wielvelling tydens die wedren beskadig het.

In die derde wedren het die geveg voortgeduur tussen Douglas Archer (Ridgeway Kollege) en Marno van Zyl (HS LTT) in die junior manskategorie. Tydens hul vorige kragmeting, die Cycle Centre XCO in Maart, was dit Van Zyl wat vir Archer kon uitoorlê en die afdeling wen, met Archer in die tweede plek. Saterdag het Archer egter weer die bordjies verhang en eindig eerste deur die vyf rondtes van 5 km elk te voltooi in ‘n algehele tyd van 01:11:30. Van Zyl was dié keer weer tweede met ‘n algehele tyd van 01:13:16. Archer en Van Zyl was ook algeheel eerste in die wedren uit 22 ryers. Joleen de Swardt (HS LTT) was op haar beurt die eerste junior vrou tuis (vier rondtes van 5 km) in ‘n tyd van 01:28:55 en algeheel 17de.

Die Youth-kategorie (tydens die tweede wedren) vir seuns is ook oorheers deur plaaslike ryers. Hier was dit Richard Lambert (HS LTT) wat die vier rondtes van vyf kilometer elk kafgedraf het in ‘n tyd van 00:52:13. Hy is egter goed opdraende gegee deur nog ‘n plaaslike ryer, Dawie Grobbelaar, wat algeheel tweede geëindig het in ‘n tyd van 00:53:05. Lambert en Grobbelaar was onderskeidelik ook algeheel eerste en tweede uit 19 deelnemers aan die wedren. Turner de Swardt (HS LTT) was vierde in die Youth-kategorie vir seuns in ‘n tyd van 01:01:33 en vyfde algeheel, terwyl Christelle Coetzer (HS LTT) die eerste Youth-meisie tuis was in ‘n tyd van 01:13:54. Sy was algeheel 9de.

Vier van Laerskool Louis Trichardt se jong fietsryers het ook deelgeneem aan die wedren. In die Nippers-kategorie was Trevor en Shaun de Beer onderskeidelik 20ste en 24ste, terwyl die sewejarige Nicolas Archer (een van die jongste deelnemers die dag) 15de was in die Sprogs-kategorie, met Catelyn de Beer kort op sy hakke in algehele 16de plek.

Sport - Date: 06 May 2016

Recent Articles

Search for a story:

 

Christelle Coetzer (middel) was die algehele wenner van die Youth-kategorie vir meisies. Tweede was Ani Gutierrez-Hernandez (links) en derde Simone Nel (regs). Foto verskaf.

 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: