ADVERTISEMENT:

 

Marno van Zyl, met sy geel wennerstrui, jaag by rock garden af. 

Triegies behou voorsprong in provinsiale Spur XCO-liga

 

Hoërskool Louis Trichardt het Saterdag behoorlik afgereken met die kompetisie in die volgende rondte van die provinsiale skole Spur XCO-bergfietsliga, die Tour de Lake, en dan nog boonop op verlede jaar se ligawenners, Stanford Lake College, se tuisveld.

Uit Triegies se rekordgetal van 30 fietsryers was daar vyf podium wenners en ‘n verdere 13 fietsryers wat elk ‘n Top-10 posisie ingepalm het. Die skool lê nou met ‘n oortuigende 248 punte bo-aan die punteleer, met Standford tweede met 181 punte en Hoërskool Merensky derde met 119 punte.

Marno van Zyl en Richard Lambert, wat Saterdag in geeltruie as provinsiale voorlopers weggespring het, het geskitter en elk weer hulle ouderdomskategorie gewen.

Vir Lambert was dit ‘n titaniese stryd gewees vir ‘n eerste plek in die Youth-seuns afdeling. Lambert het in sy tweede rondte sy voorsprong voor teenstander David Grobbelaar verloor, nadat hy geval het, terwyl hy sy fiets probeer beheer het in een van die baan se mees tegniese afdraandes, oor ‘n boggel. Hy het die agterstand ingehaal, maar kon nie ‘n genoegsame gaping tussen hom en Grobbelaar oopry nie. Daar was net een sekonde verskil tussen sy wentyd en dié van Grobbelaar, nadat hy in die doodsnikke van die wedren Grobbelaar net-net kon verby steek.

Lambert se algehele tyd oor drie rondtes was 41 minute en 15 sekondes. David maak tweede klaar, gevolg deur Carel Smit in die derde plek in ‘n tyd van 44:44.

Van Zyl wen ietwat gemakliker, met ‘n hele minuut en drie sekondes om te spaar voor sy naaste opponent, Matthew Wilkinson, van Stanford. Dit was egter nie te sê dat Van Zyl dit maklik gehad het aan die begin nie. Hy moes in die eerste rondte sy eerste plek inhaal van ‘n sewende plek, nadat hy moeilikheid gehad het met ‘n ketting wat afgeklim het kort ná die begin van die wedren. Van Zyl wen die junior seuns-afdeling met ‘n algehele tyd van 57 minute en 13 sekondes oor vier rondtes. Wilkinson maak tweede klaar in ‘n tyd van 58:16, met Lachlan Truesdale (Stanford) derde in ‘n tyd van 59:57.

In die meisies O/14-afdeling het Hoër- en Laerskool Louis Trichardt ook die wedren gedomineer. Dominique Nel maak ‘n hele minuut voor haar naaste spanmaat klaar in ‘n algehele tyd van 36 minute en 30 sekondes. Simoné Oberholzer was tweede in ‘n tyd van 37:41, met nuwe fietsryer Jennavieve Truter derde in ‘n tyd van 46:41.  

Die ander Triegie ryers wat in die Top 10-posisies klaargemaak het, was Christelle Coetzer, Joleen de Swardt, De Wet du Toit, James Raper, Ethan Herman, Turner de Swardt, Karla “Vossie” van Zyl, Eugene van der Heever, Marvelique van der Merwe, Rohan Cronjé, Anicka Nel, Eduan Naudé, Heine de Jager en Dillon Niemann.

Die jong Triegies by die Laerskool se span het ook deelgeneem, en het beïndruk met hul span se verbetering. Dié span lê net agt punte onder die derde plek op die punteleer. Pietersburg Oos hou die eerste plek met 233 punte, gevolg deur Unicorn Preparatory tweede met 102 punte en Pepps derde met 70 punte.

Triegies se span spog met drie Top 10-posisies. Brendan Bruce en Catelyn de Beer maak onderskeidelik vyfde en sewende klaar in die Nippers-afdeling, terwyl Michelle Steyn agtste klaarmaak in die Sprogs-afdeling.

Die ander spanlede was (met hulle plekke elke keer in hakies): Iwan van den Heever (12de), Jaco Venter (19de), Reynard Wilson (27ste), Xavier Kotzee (28ste), Nicolas Archer (32ste), Herman Veldman (15de), Christopher Coronaios (17de), Shaun de Beer (18de) en Trevor de Beer (23ste).

Die volgende rondte van die provinsiale Spur XCO-liga, die Tour de Pot, vind op 3 September plaas in Mokopane.

 

Sport - Date: 19 August 2016

Recent Articles

Search for a story:

 

Dit was 'n tinaniese stryd vir Richard Lambert om 'n eerste plek te verseker in die tweede been van die Limpopo Spur skole XCO-bergfietsliga wat by Standford Lake College beslis is oor die naweek.

Die baan van die tweede Limpopo Spur skole XCO-bergfietsliga was nie vir sissies nie, en was gekenmerk deur heelwat (sommige van hulle skouspelagtig) valle. 

Marno van Zyl (middel) van Hoërskool Louis Trichardt het Saterdag die Junior-seuns kategorie van die tweede provinsiale bergfietsliga, die Tour de Lake by Magoebaskloof gewen. Langs hom staan Matthew Wilkinson (links) en Lachlan Truesdale (regs) van Stanford Lake, wat onderskeidelik tweede en derde geëindig het.

Richard Lambert (middel) van Hoërskool Louis Trichardt het Saterdag die youth-seuns kategorie van die tweede provinsiale bergfietsliga, die Tour de Lake in Tzaneen, gewen. Langs hom staan David Grobbelaar (links) van H/S Frikkie Meyer en Charl Smit van Hoërskool Piet Potgieter, wat onderskeidelik tweede en derde geëindig het.

Ridgeway College in Louis Trichardt het ook 'n plek losgery in die Tour de Lake. Jadie McLeod (regs) eindig tweede in die junior meisiesafdeling. In die middel is die wenner, Amelia Middelton van Hoërskool Merensky, met Kirsten Eastes van Standford Lake College langs haar in die derde plek.

Hoër- en Laerskool Louis Trichardt het die podium gedomineer by die Tour de Lake XCO die naweek. Dominique Nel maak eerste klaar, met Simoné Oberholzer (regs) van die laerskool in die tweede plek en Jennavieve Truter (links) derde.

 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: