ADVERTISEMENT:

 

Munisipaliteit moet dalk opdok, nadat premies gestaak word

 

News  Date: 01 June 2007

 

‘n Hofgeding waarby enorme, groeiende eise van miljoene rande betrokke is, dreig teen die Makhado Munisipaliteit. Dit is die mening van ‘n regskenner wat sê dat tensy die dorp se belastingbetalers tydig optree, enige eise en regskoste aan die saak verbonde, na die belastingbetalers afgewentel sal word.

Die saak spruit voort uit die beweerde onregmatige beëindiging van ‘n groepsversekeringsvoordeel vir munisipale werkers.

‘n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Nasionale Fonds vir Munisipale Werknemers (NFMW) het verlede week gesê dat die hofgeding teen die munisipaliteit onafwendbaar is, ná mislukte pogings om die munisipale bestuur te oorreed om van sy beweerde onregmatige optrede af te sien. Hy sê die regsoptrede volg nadat die munisipaliteit tot nadeel van sy werknemers se gesinne, op aandrang van vakbondbestuurslede, werknemers sedert die einde van verlede jaar wederregtelik verwyder het van die 2% x 2% voorsorgfonds, deur die inbetaling van premies te staak. Dié voorsorgfonds (waartoe die werkgewer en werknemer elk 2% van die betrokke lid se salaris bygedra het) maak voorsiening vir ‘n risikovoordeel waarvolgens drie maal die jaarlikse salaris van ‘n munisipale werknemer by afsterwe aan sy gesinslede uitbetaal word.

Die optrede van die Makhado munisipale bestuur, om sy werknemers hierdie voordeel te ontsê, veroorsaak volgens die woordvoerder reeds ernstige ontbering vir die agtergeblewe gesinne en naasbestaandes van munisipale werknemers in Louis Trichardt wat sedert 1 Januarie gesterf het. Omdat die munisipaliteit se optrede meegebring het dat die betaling van premies aan die voorsorgfonds gestaak is, sê die woordvoerder, kon geen uitbetalings gemaak word aan die gesinslede van munisipale werknemers wat sedertdien gesterf het nie. Al die eise wat so ontstaan, is vir die rekening van die Makhado Munisipaliteit. Die betrokke bedrae beloop na raming reeds meer as R1,8 miljoen.

Die Makhado Munisipaliteit is ook ingevolge ‘n vroeëre arbitrasie-uitwysing verantwoordelik vir die terugbetaling van lede se bydraes tot en met die besluit aan die einde van 2006. Dié terugbetalingseis word deur regskenners beskryf as ongeldig, maar word nou afgedwing omdat die Makhado Munisipaliteit dit nie teen gestaan het nie. Kommer bestaan dat as die munisipaliteit toegee aan die beweerde ongeldige eis om dié reuse bedrag terug te betaal, sal dit meebring dat die plaaslike belastingbetalers daarvoor sal moet instaan.

Die voorsitter van die regskomitee van die NFMW, mnr. Chris de Lange, het gesê aangesien die risikovoordele van die normale pensioenfonds in die jare tagtig as onvoldoende beskou is, is die bykomende risikovoordele van die voorsorgfonds aanvanklik vir die topbestuur van die munisipaliteit beskikbaar gestel. Dit is sowat vyf jaar gelede ingevolge ‘n amptelike munisipale raadsbesluit uitgebrei na alle werknemers van die munisipaliteit. Te oordeel aan die uitbetalings wat die fonds sedertdien hier gedoen het, het dit duidelik in ‘n ernstige behoefte voorsien. Die opskorting van die inbetalings vir die voorsorgfonds het gevolg nadat die munisipaliteit toegee het aan die druk van ‘n vakbond, wat verlede Desember aangedring het dat dit beëindig moet word en dat alle lede se bydraes tot die risikodekking aan hulle terugbetaal moet word.

Aangesien die Pensioenfondswet bepaal dat daar nie tot nadeel van die lede van die fonds opgetree mag word nie, is die optrede van die Makhado Munisipaliteit, volgens mnr. De Lange, in verband met die voorsorgfonds strydig met die bepalings van die wet. Die wet en die voorsorgfondsreëls maak wel daarvoor voorsiening dat lidmaatskap op versoek na ‘n ander fonds oorgeplaas kan word, maar dit kan net volgens duidelike voorwaardes en voorskrifte geskied. Die voorwaardes is dat die lid op geen wyse deur die oordrag benadeel mag word nie en in die nuwe fonds minstens dieselfde of beter voordele moet geniet as dit wat die bestaande fonds bied. Daar mag ook nie ‘n onderbreking in die lid se risikodekking plaasvind as gevolg van die oorskakeling nie. ‘n Instansie wat toelaat dat ‘n onderbreking in ‘n lid se risikodekking ontstaan, sal aanspreeklik wees vir die koste van enige eis wat tydens die onderbreking mag ontstaan, aangesien risikodekking nie terugwerkend van aard is nie.

Hierdie situasie, tesame met die uiters ernstige gevolge van die summiere staking van premies, is drie weke gelede tydens ‘n spesiale ontmoeting met die Makhado Munisipaliteit aan die bestuurslede verduidelik in ‘n finale poging om die beweerde onregmatigheid te herstel. Die samesprekings het misluk nadat die munisipale woordvoerders botweg geweier het om aan die oproep gehoor te gee.

"Ons is gevolglik verplig om die munisipaliteit hof toe te vat," het mnr. De Lange gesê.

Die plaaslike munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, het in reaksie gesê lede van die vakbond SAMWU het met vergeldingsaksies gedreig as daar nie gehoor gegee word aan hul eis dat hul lidmaatskap van dié voorsorgfonds beëindig moet word nie. Hulle verkies lidmaatskap van "hul vakbond se eie voorsorgfonds".

"Ons leef nou in ‘n demokratiese bestel en dié lede het die demokratiese reg om te besluit aan watter voorsorgfonds hulle wil behoort. Daarom het die Makhado Munisipale Raad amptelik besluit dat lidmaatskap van die bestaande 2%x2% fonds nie meer verpligtend is vir sy werknemers nie. Die SAMWU-lede wat daarop aangedring het, se premies is gestaak en hulle sal toegelaat word om by die fonds van hul keuse aan te sluit," het Muthambi gesê.

Op ‘n vraag of ‘n nuwe voorsorgfonds reeds in plek is, het me. Muthambi gesê aansoekvorms word tans ingevul. Sy sê ten opsigte van IMATU-lede (die wit amptenare) en daardie SAMWU-lede wat tevrede is met die huidige fonds, betaal die munisipaliteit steeds die voorgeskrewe premies. Me. Muthambi sê die munisipaliteit het regsadvies oor die aangeleentheid ingewin en sal sy optrede in enige hof kan regverdig.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines