ADVERTISEMENT:

 

In die agtergrond is van die 15 leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt wat verlede Vrydag positief getoets het vir die gebruik van dwelms of verbode middels, terwyl plaaslike polisielede papierwerk invul. Op die voorgrond is van die middels waarop daar beslag gelê is tydens die polisie se ondersoek.

14 leerlinge in hof oor dwelms

 

‘n Poging om die groeiende dwelmprobleem onder die jeug van Makhado (Louis Trichardt) aan te spreek, het gemengde reaksie uitgelok by inwoners.

Veral ouers wie se kinders by Hoërskool Louis Trichardt skoolgaan, is die josie in ná die Makhado polisie verlede Vrydag ‘n blitsklopjag by dié skool uitgevoer het. Veertien leerlinge het positief getoets vir dwelms of ander verbode middels.

Die Makhado SAPD het Vrydag saam met lede van hul honde-eenheid toegesak op die skool. Buiten dat leerlinge se tasse en sakke deursoek is, is daar ook dié wat ‘n urine multi-dwelmtoets moes ondergaan het by die skool. Die toets het vir vyf verbode middels getoets, naamlik morfien (opiate), amfetamiene, methamphetamiene, benzoylecgoniene (kokaïne), en tetrahydrocannabinol (dagga).

Dié leerlinge wie se toetse positief was, is in aanhouding geplaas. Hulle ouderdomme het gewissel tussen 15 en 18 jaar oud. Nie hulle name of hulle toetsuitslae mag bekend gemaak word nie. ‘n Vyftiende leerling, ‘n seun, is ook in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n knipmes in sy besit gevind het. Verder het die polisie ook beslag gelê op tientalle pakkies sigarette, dagga en pynstillers.

Al 15 die leerlinge is na die Louis Trichardt Distrikshof geneem, waar hulle aangekla is. Die seun wat die knipmes gehad het, is aangekla van die besit van ‘n gevaarlike wapen, terwyl die ander 14 leerlinge aangekla is van die onwettige besit van narkotika.

Hier is die kinders opnuut ingelig oor die gevare wat dwelmverslawing kan inhou. “Vandag is die dag wat jy jou lewe kan omdraai, voordat dit te laat is en jy later rêrig met die gereg bots,” het die Staatsaanklaer vir die groep leerlinge gesê. “Ons is nie hier om julle te breek nie, maar om julle te help, en die polisie sal die skool slaan tot al die dwelms uit die skool geslaan is.”

Die koerant het verneem dat die leerlinge ‘n ingrypingsprogram sal moet voltooi as deel van hulle straf, en om te verhoed dat hulle ‘n permanente kriminele rekord sal kry. Hulle het almal weer Maandag in die hof verskyn, waarna hulle saak uitgestel is tot 11 Augustus.

Intussen het daar ‘n storm losgebars onder die ouers van die skool. Daar was dié wat gemeen het die klopjag verdien ‘n pluimpie. Ander ouers was egter ontstoke en van mening dat die polisie, skool en hof die leerlinge se menseregte vertrap het met die wyse waarop die klopjag uitgevoer is. Van die 15 kinders wat aangekla is se ouers het ook intussen regshulp ingewin om hul kinders se saak te verdedig.

Van die klagte wat van die ouers met die koerant gedeel het, was dat die polisie die klopjag in die openbaar uitgevoer het. Leerlinge wat getoets is vir dwelms, is glo ten aanskoue van medeleerlinge en personeel uit die saal geneem vir die toets. Verder is leerlinge se toetsresultate nie privaat gehou nie en die 15 aangeklaagdes is glo aangehou sonder dat hul regte aan hul voorgelees is. Verder is hulle in ‘n gemerkte polisievoertuig vervoer en vir die hele dag aangehou sonder kos en water, waartydens hul met tye in die polisieselle saam met volwassenes aangehou is.

Ouers het ook kapsie aangeteken oor die wyse waarop die dwelmtoets uitgevoer is. Volgens hulle is die wetlike prosedure om ‘n leerling te toets vir dwelms, soos dit vervat is in die Suid-Afrikaanse Onderwyswet (Wet 84 van 1996), nie stiptelik nagekom nie. Die polisie, sê die ouers, het ook nie in ag geneem dat daar dalk leerlinge was wat medikasie gebruik het nie. ‘n Bloedtoets, sê die ouers, is nie ‘n voldoende opvolgtoets vir dwelms of verbode middels nie.

Hoërskool Louis Trichardt se waarnemende hoof, mnr. Theo Muller, het Woensdag gereageer op medianavrae rondom Vrydag se gebeure. Volgens Muller was daar redelike bewyse van onwettige aktiwiteit by die skool. Behalwe dat ouers gekla het oor dwelms by die skool, was daar ook glo kinders wat openlik gepraat en gespog het oor dwelmmisbruik by die skool. Derhalwe, het Muller gesê, was daar verlede jaar by twee geleenthede sprekers by die skool om kinders aan te spreek oor die gevare van dwelms.

Die polisie se hulp is ingeroep nadat die skoolbeheerraad ‘n ondersoek aangevra het en skriftelik daartoe ingestem het. “Die skool het vrywillig saamgewerk met die SAPD,” het Muller gesê. Muller het verder bevestig dat geen ondersoek ten aanskoue van buitestanders gedoen is nie. “Leerlinge was in die skoolsaal vergader; die ondersoek het nie daar plaasgevind nie.”

Verder sal die skool nog besluit op verdere stappe teen die 15 leerlinge wat in die hof verskyn het, nadat hulle voor ‘n dissiplinêre komitee verskyn het. “Die skool sal die leerlinge en ouers ondersteun; hulle bly ons leerders,” het Muller gesê.

Plaaslike polisiewoordvoerder A/O Takalani Madzhigili is ook genader vir kommentaar rakende ouers se klagte oor hul kinders se regte wat klaarblyklik geskend is. Hy het Woensdag bevestig dat die navraag aandag geniet, maar kon teen druktyd nog nie 'n persverklaring uitreik nie.

News - Date: 01 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: