ADVERTISEMENT:

 

39. Daisy en Plore ontdek Gomorra se geheime

 

“Hoorie Plore, word wakker! Ek het ‘n wonderlike plan vir vandag. Toe nou! Hier is koffie en van jou ma se beskuit.” Daisy pluk-pluk aan haar peetkind se voet wat onder die duvet uitsteek. “Op, op, Plore, of ek gooi jou papnat!”

“Dêmmit, Daisy! Mens sou sweer jy kom van die plaas af! Hier in die stad slaap mens tot die son opkom – veral op ‘n Sondag,” mompel Plore. Hy trek die duvet bo-oor sy kop en slaap verder.

“O nee, dude. Daar is ‘n hele léwe daar buite en ek en jy gaan dit vandag soos ‘n pizza inryg!” Sonder verdere waarskuwing spring Daisy bo-op Plore se rug en begin hom met yskoue hande kielie. Sekondes later gryp Plore Daisy se hande vas en druk haar vas op die bed, sy hare skeefge­slaap en oë nog bot toe.

“Oukei, Daisy, jy het my aandag. Laat ek my oorgee aan kaffeïne, dan vertel jy my solank wat jou planne is...” Hy gaap half-moerig.

“Plore, ken jy daai liedjie van die Briel-egpaar, Een aand op ‘n trein na Pretoria? Nee? Miskien was dit ‘n bietjie voor jou tyd ... Picture this, Plore – Die Gautrein na Gomorra! Ek weet jy het nog nie die trein probeer nie. Vandag gaan ek en jy Johannesburg toe met die trein!”

Al antwoord wat Daisy kry is ‘n harde kreun voor Plore die kussing oor sy kop trek.

“Toe, toe Plore! En jy moet flippen cool aantrek – die mense in Johannesburg kan gou sien as die mense van Snor City kom kuier en dan word hulle geteiken. G’n PT-broek of plakkies nie! Ek laat weet solank vir my dierbaarste blou-oog buurman hy hoef ons nie te kom haal nie, ons sal hom vir brêkfis by Montecasino kry. Hy sal só beïndruk wees met my oorspronklike idee – anders as jy!”

Gedress en gepress parkeer Daisy en Plore by Hatfield se Gautrein-stasie ‘n uur later. Daisy het die treinskedules en kostes met haar nuwe iPhone ge-Bing en sy weet presies waar sy goue kaarte vir haar en Plore kan koop.

“Haai, Plore – kyk net hoe mooi skoon en stil is dit! Is dit nie só special om iets in onse land te sien wat werk nie?” Daisy se kritiese oë kry niks verkeerd nie.

“Ja, my antie. Dis seker nogal hectic hier gedurende die week? Maar daar is vir seker genoeg par­ke­ring en als is goed aangedui. Moet sê, ek is self nogal oorweldig op ‘n goeie manier. Anders as die hele gemors van e-tol, nê?”  lag hy onderlangs.

“Dis nou nie heeltemal Engeland se pragtige landskappe of selfs die Bosveld nie,” sê Daisy vir Plore toe hulle by Sandton die roltrappe na die grondvlak neem. “Lyk maar vaal en verslete hier op die Hoëveld in die winter, met net ‘n paar moedelose bloekombome wat die koue trotseer. Ai, Plore, ek hoop daar is meer opwindende dinge om te sien vandag...”

Tydens ontbyt het Bernard ‘n verrassing van sy eie vir Daisy en Plore. “Ek het gedink ek moet julle iets unieks aan Johannesburg gaan wys. Iets wat mens nooit, nooit op Waterpoort sal sien nie. Dis ‘n belewenis wat mens net kan wýs en nooit vertel nie, en dis glad nie so voorspelbaar soos Montecasino se uitstekende restaurante en dobbel­tafels nie!”

Plore kyk vir Bernard stil-stil uit. Hy het soveel van hierdie Doktor Young gehoor dat hy ietwat geïntimideer voel. Tot hulle by Bernard se kar kom: Plore fluit saggies toe hy die elegante swart BMW sien. Hy loop om die kar.

“Kyk, Plore, die dak kan af. Dis jammer dis nog so koud...”

“Daisy, regtig. Dis nie belangrik nie! Weet jy wat die versnelling van hierdie kar binne agt sekondes is? Het jy enige idee van die perde­krag of wringkrag? Die naaste wat ek nog aan so ‘n kar was, is Top Gear.”

Daarna het Bernard en Plore niks meer nodig om oor te gesels nie. Daisy sit agter in die kar met haar oë toe en luister met oorfone na musiek terwyl Bernard vreesloos en met groot spoed tussen die Sandton verkeer deurvleg.

“Wel, hierdie ontmoeting het beter gegaan as wat ek gehoop het,” dink Daisy. “Verstommend dat ‘n onbelangrike ding soos ‘n stuk ma­sji­nerie onmiddellik ouderdoms- en kultuurgrense kan oorbrug en ‘n broederskap kan vestig. Miskien is enjinkapasiteit in die stad dalk net ‘n meer beskaafde samesnoerder as die vergelyking van kaliber op Waterpoort en Vivo!”

Op haar eie lag Daisy sommer hardop, min wetende dat sy binne die volgende drie ure glad nie meer so ingenome sal wees met die glansende Gomorra nie!


(Deel 2 volgende week!)

Daisy - Date: 01 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: