ADVERTISEMENT:

 

Die toneelgroep van Hoërskool Louis Trichardt is hard besig met voorbereiding om twee stukke op die planke te bring vir die landswye ATKV- Tienertoneelkompetisie. Foto verskaf.

Toneelgroep mik na groot hoogtes vanjaar

 

Die toneelgroep van Hoërskool Louis Trichardt is hard besig met voorbereiding om twee toneelstukke op die planke te bring vir die landswye ATKV-Tienertoneelkompetisie .

Verlede jaar het die skool vir die eerste keer twee toneelstukke ingeskryf. Beide Stemtoon, met regisseur Marcel van Niekerk, en Flikker, met regisseur Nico Scheepers, het tot op nasionale vlak gevorder en aan die Clover Nasionale Aardklop Kunstefees deelgeneem. In 2010 en 2011 het Scheepers se stukke die wenprys daar ingepalm.

Vanjaar is daar weer twee stukke, met Marcel aan die stuur van beide. Die een stuk is ‘n drama, Harnas, waaraan ‘n ensemble van 15 spelers en ‘n tegniese span van drie deelneem. Marcel is ook vir die teks verantwoordelik. Hy is steeds baie geheimsinnig rondom die tema. “Al wat ek wil sê, is dat Suid-Afrikaners geneig is om die onreg wat binne ons land se grense plaasvind, in ‘n rangorde te rangskik. Party sake geniet meer aandag as ander, afhangende van hoe die mense persoonlik daardeur geraak word. Harnas gaan oor ‘n saak wat reg onder aan daardie rangorde uitgekrap is,” het Marcel gesê.

Marietjie Leonard speel ‘n karakter in Harnas wat teleurstelling in mense, hartseer en verwerping ervaar. “Dit is baie anders as laasjaar se stuk, Stemtoon, wat meer spiritueel met ‘n mens gepraat het. Harnas is ‘n baie intense stuk en dit verg baie werk om die emosies reg oor te dra,” het Marietjie gesê.

“Die tweede stuk, Dinner for one, is bloot net 'n humoristiese stuk wat ons na die feeste saamneem om dit te geniet,” het Marcel gesê. Die Afrikaanse vertaling van Lauri Wylie se stuk is ‘n spanpoging deur Marcel en spelers André du Preez en Annelize Pauer. Annelize vertolk die rol van tant Anna (Miss Sophie) en André die rol van James.

Die toneelgroep het ‘n besige Augustusmaand wat voorlê. Eers is daar 'n slypskool met ervare regisseur en skrywer Jannes Erasmus vir finale afronding. Daarna neem hulle deel aan die Tshwane toneelfees wat van 7 tot 9 Augustus by Hoërskool Eldoraigne in Pretoria aangebied word. Twintig stukke gaan daar opgevoer word deur skole soos Menlopark, Afrikaans Seuns Hoër en Meisies  Hoër en die Issie Venter Dramaskool. “Ons neem aan hierdie kunstefees ook deel ter voorbereiding van die ATKV-Tienertoneelkompetisie,” het Marcel gesê. Die toneelgroep tree op 12 Augustus plaaslik op, met die ATKV Gauteng-Suid tienertoneel-streekfees daarna. Dié fees word vanaf 18 tot 22 Augustus in die Springs stadsteater aangebied. Daar sal 20 stukke deelneem en die beste vier stukke sal weer die 22ste tydens die streeksfeesfinaal optree.

“Die kompetisie gaan sterker as ooit tevore wees, aangesien die ATKV Tienertoneel sy 50ste bestaansjaar vier. Hoërskool Louis Trichardt se toneelgroep het die afgelope aantal jare ‘n baie hoë standaard gehandhaaf en ons mik hierdie jaar vir niks minder nie,” het Marcel gesê. Daar gaan omtrent 185 stukke vanoor die land en Namibië  opgevoer word.

Entertainment - Date: 01 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: