ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Vrou gee aanvaller ‘n paar warm klappe

 

Dit is nie elke dag dat ‘n vrou ‘n aanval op haar lewe suksesvol afweer nie, en dit nogal nadat sy haar aanvallers ‘n paar warm klappe toegedien het.

Maritsa Gousshard, ‘n inwoner van Makhado (Louis Trichardt), moes verwoed veg nadat ‘n onbekende aanvaller haar verlede Donderdag helder oordag probeer ontvoer het.

Op die dag van die voorval was sy te voet  in Rissikstraat op pad huis toe, nadat sy haar dogter afgesien het by Woelwaters Kleuterskool, waar dié werksaam is.

Met die terugstap het ‘n minibus taxi op die sypaadjie, naby die parkie in Rissikstraat, afgetrek. Maritsa vertel dat sy eers nie aandag gegee het aan die taxi nie, en aanhou stap het. Al wat sy ná haar nagmerrie ervaring kan onthou, is dat die bussie getinte vensters gehad het.

Sy het langs die bussie verbygeloop toe die sydeur ewe skielik oopgaan. ‘n Onbekende man het haar aan die arm gegryp en by die bussie probeer intrek. “Ek het gehoor hoe die bestuurder, voor in die bussie, bly sê het: ‘Get her in, get her in’,” het Maritsa vertel. 

“Ek kon dit nie verstaan nie. Ek het niks in my hande gehad nie, en my selfoon en huissleutels was in my broeksak. Dalk het hulle gedink ek het geld aan my gehad ... ek weet nie,” het Maritsa gesê.

Niemand het gesien wat met Maritsa gebeur het nie, en sy was al halfpad in die bussie toe sy besluit nóú moet sy plan maak. Dis toe dat sy lostrek met haar ander arm en haar aanvaller op sy kakebeen slaan – drie keer.

Die man het haar gelos, en Maritsa het begin hardloop. Sy het nie opgehou hardloop totdat sy by haar huis in Douthwaitstraat gekom het nie. Behalwe vir ‘n paar kneusplekke, is sy ongedeerd.

Omdat Maritsa nie ‘n beskrywing van haar aanvallers of ‘n registrasienommer van die bussie kon onthou nie, is daar nie ‘n formele klag by die polisie geopen nie. Haar raad aan ander inwoners, veral vrouens, was om op hul hoede te wees as hulle gaan stap, sodat hulle nie ook slagoffers word van ontvoerders nie.

News - Date: 01 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: