ADVERTISEMENT:

 

Toename in selfmoord kommerwekkend

 
LOUIS TRICHARDT – Kommer is aan die toeneem oor die groot hoeveelheid selfmoorde wat tans deur inwoners gepleeg word. Sedert die begin van die jaar het drie persone besluit om hul eie lewens te neem.

Mnr. Theo Heinlein het op 14 Februarie selfmoord gepleeg, terwyl mev. Hettie Janse van Rensburg op 18 Maart haar lewe beëindig het, sewe dae na haar 73ste verjaarsdag. Die mees onlangse geval het in die afgelope week voorgekom. 'n Oud-inwoner wat einde verlede jaar verhuis het, het ook die afgelope week selfmoord gepleeg.

Volgens statistieke is selfmoord die tiende grootste oorsaak van dood by mense. Een bron ontleed die redes waarom mense selfmoord pleeg soos volg: 40% van selfmoorde word meer impulsief gepleeg na emosionele traumas, die hopelose gevoel as gevolg van depressie of as ontvlugting van pyn; 25% weeg lewe en dood teen mekaar op en kies die dood as gevolg van 'n totale gevoel van hopeloosheid (weereens depressie); 25% is as gevolg van verstandelike en geestelike versteurdheid en by 10 % van die gevalle weet niemand wat die rede was nie.

Dr. Anton Stroebel sê dat enige persoon wat selfmoordneigings koester, depressie het. Hy sê dat depressie 'n serotonientekort in die brein aandui. Later word die limbiese sisteem van die brein aangetas. Die persoon slaap óf sleg óf te veel en eet óf sleg óf te veel. Slaap- en eetversteurings is twee van die kriteria vir depressie. Later raak die persoon afgestomp, onttrek en gee nie meer aandag aan persoonlike versorging nie. Op daardie stadium waar jy die depressie kan sien deur net na die persoon te kyk, is hy of sy alreeds 'n baie hoë risiko vir selfmoord. Dr. Stroebel sê dat 'n depressielyer medikasie moet kry as deel van sy behandeling.

Die onlangse gevalle van selfmoord het voorgekom by mense in die volwasse en senior ouderdomsgroep. Dr. Stroebel sê dat selfmoord voorkom by ouer mense wat hoop in die lewe verloor het of 'n groot verlies ondervind het. Die ander groep met 'n hoë voorkoms van selfmoord, is jongmense. Beide groepe ervaar sterk nikswerdgedagtes, soos "Ek is nie belangrik nie" en "Niemand gee vir my om nie". Kundiges op die gebied van selfmoord is dit eens dat elke verwysing na selfmoord ernstig opgeneem moet word en onmiddellik daarop gereageer moet word. Mev. Hester Beukes, maatskaplike werker van die CMR, sê dat 'n verwysing na selfmoord altyd 'n uitroep om hulp is. Sy het beklemtoon dat selfmoordgedagtes nie normale gedrag is nie en altyd ernstig opgeneem moet word. 'n Goeie ondersteuningsisteem vir so 'n persoon is van die grootste belang.

"Daar is mense wat werklik selfmoord beplan. Dan is daar mense wat almal om hulle manipuleer met dreigemente en halfhartige selfmoordpogings wat nie bedoel is om te slaag nie. Maar dit maak nie saak of dit werklike selfmoord of manipulasie is nie, dit is 'n manier om te sê: 'Ek soek hulp en ek weet nie hoe om hulp te kry nie!'" sê mev. Beukes.

Voltydse berader, mev. Santie Barnard sê dat mense wat in nood is, moet weet daar is hulp. "Dit is nie nodig dat hulle met hierdie depressie moet loop nie. Alle mense dra emosionele bagasie rond, wat die eintlike oorsaak is dat daardie laaste strooi die kameel se rug breek," sê sy.

Intussen word daar 'n lys van plaaslike beraders saamgestel om die probleem van selfmoord aan te spreek. Beraders word gevra om vir Tom Barnard te skakel by tel. 083 468 4868. Persone kan ook om hulp aanklop by verskeie instansies of persone, soos kerke, mediese dokters, sielkundiges en maatskaplike werkers.

News - Date: 04 April 2003

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: