ADVERTISEMENT:

 

25. Daisy word platgevee deur die trousiekte (deel 1)

 

Dis Sodom wat met Daisy se kop mors.

Op die plaas is daar net Ousus en Jakobus se huwelik en dié is so bedaard, kalm en voorspelbaar dat Daisy dit as vanselfsprekend aanvaar, amper soos die profiel van die Soutpansberg teen sononder.

Maar dis heeltemal ‘n ander storie om in die stad te kuier. Dis by haar vriendinne in die voorstede waar Daisy Die Siekte optel. Trousiekte.

Hoe dan ook anders? Die helfte van Pretoria is besaai met pragtig-versorgde jong vrouens met reuse diamantringe wat die grootste deel van hulle dag spandeer aan geskenklyste by Mr Price Home, wroeg oor materiaalsampeltjies (moet die trourok spierrewit of sagste room wees?) en die ewige metafisiese strikvraag: individuele kolwyntjies of ‘n laagkoek met vars blomme...

Die ander helfte van Pretoria loop met boepmagies (nee, nie soos die kakiegeklede waatlemoensmokkelaars van Alldays, Vivo en Waterpoort nie!) en ruil grieselrige geboorteondervindings uit met al wat rok dra terwyl hulle gemmertee teen die naar drink en spoegdoeke omhekel.

Daisy het haar nog altyd doelbewus weerhou van die beperkinge van so ‘n lewe, gelag as mense haar vra wanneer sy dan nou afhaak en dan lank en gelukkig op nog ‘n avontuur vertrek wat nie skottelgoed en vuil doeke insluit nie.

“Dis alles Baardman se skuld,” murmereer Daisy so op haar eie terwyl sy toesig hou in die pakhuis. “Weet ook nie waar die Bybel kom aan die storie dat dit Eva was wat die appel blinkgevryf en gehap het nie. Ek is oortuig daarvan dat Adam met die slang geheul het! Mans het nou maar eenmaal die manier om dinge lelik om te krap...”

Diep binne-in weet Daisy eintlik dat dit net hormone is wat praat. Dat Moeder Natuur so onverwags soos sendingwerkers op ‘n Saterdagaand aan haar deur kom klop het. En dat Moeder Natuur groot blou oë, ‘n oopbek-lag en diep kuiltjies in die wange gebruik om haar punt te maak oor die voortbestaan van die menslike ras.

“As die ou dingetjie net nie so eetbaar gelyk het in haar pienk rokkie nie. As daai blonde krulle my hart net nie so week gemaak het nie. As Baardman net nie gesê het hoe baie sy na my lyk nie. As ek haar net nie op my skoot vasgehou het en geruik het hoe lekker sy ruik nie...”
Daisy begin saggies snik, toe harder. Later los die helfte van die pakkers die pampoene om eers vir Daisy te troos. “What is the problem, ma’m? What is wrong?” Die simpatieke susters laat Daisy al hoe harder huil.

“Ek wil ‘n bybie hê,” snik sy.  Die pakkers lyk verlig. Hulle het ten minste afdankings verwag. Maar ‘n bybie? Dis gladnie ‘n probleem nie.

“Oh, but that wil be wonderful, ma’m! You and that very handsome man with the beard, you will make a beeeautiful baby.”

Vir Daisy is dit die laaste strooi. Sy gryp haar selfoon en storm buite toe om vir Baardman te bel. Weg is die trane; sy is kwaad, sommer baie kwaad.

“Baardman, dis alles jou skuld. Ek was heel gelukkig om Afrika plat te reis saam met jou, af en toe by jou te kuier in die beskawing. Maar dit is eenvoudig net nie regverdig nie! Nou wil ek ‘n bybie hê! Sommer netso, uit die bloute uit! Dis alles jou skuld, Baardman.”

Rustig en bedaard kom die antwoord: “Jy’s heeltemal reg, Daisy. Mens kan nie sommer net so uit die bloute skielik ‘n baba wil hê nie. Dit word eenvoudig nie so gedoen nie. Die regte manier is om eers te trou. Wanneer dink jy dit sal jou pas, Daisy?”

“Wat bedoel jy, Baardman? Wanneer sal wát my pas? Jy moet nou nie kom met allerhande mooi storietjies nie. Ek is kwáád vir jou!”
“Daisy, wanneer sal dit jou pas om met my te trou?”
Daisy gaan sit met ‘n hik in die rooi sand.
“Wat ... wat sê jy daar, Baardman?”
“Trou met my, Daisy. Word my vrou en dan die ma van my kinders. En dan bly ons vir altyd gelukkig saam.”

Daisy druk die rooi telefoontjie op haar selfoon asof sy dit soos ‘n skerpioen wil vergruis. Dan sit sy vir ‘n oomblik of twee kop onderstebo en dink.

Met haar blonde hare soos ‘n weerligstraal om haar kop, vlieg sy op en klim haastig op Miss Soft Serve. Die stof bol onder die wieletjies van die scooter uit soos sy jaag na die teerpad toe.
Waarheen, weet sy self nie.

(Word vervolg...)

Daisy - Date: 04 April 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: