ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Man soek, ná sonde met bure

 

‘n Lasbrief is uitgereik vir die arrestasie van 'n inwoner van Makhado (Louis Trichardt), nadat hy versuim het om in die plaaslike hof hier te verskyn.

Die 35-jarige man staar tans ‘n klag van seksuele aanranding en ‘n klag van opsetlike beskadiging van eiendom in die gesig. Hy is op 20 Februarie in hegtenis geneem op dié klagte.

Die man, wat nog nie geïdentifiseer kan word alvorens hy gepleit het nie, moes verlede Vrydag in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn het. Luidens die man se klagstaat is hy in hegtenis geneem nadat hy na bewering ‘n deur en 'n fiets tydens ‘n woordewisseling met sy bure verniel het. Volgens wat die koerant kon vasstel, is die twee klagte tegelykertyd teen hom gelê. 

Die klag van seksuele aanranding is, volgens wat die koerant kon vasstel, eerste teen die man gebring. Die klag spruit uit ‘n voorval waartydens die man na bewering ‘n 19-jarige meisie sou betas het terwyl sy, haar kêrel en nog 'n vriendin by die man aan huis gekuier het.

Tydens die beweerde misdaad was die meisie se kêrel nie teenwoordig nie. ‘n Bakleiery het glo uitgebreek toe die kêrel wel teruggekeer en uitgevind het wat die man gedoen het. Die meisie en haar kêrel het besluit om na haar ouerhuis, oorkant die straat van die man se huis, terug te keer.

Die man het hulle glo agtervolg om die bakleiery voort te sit en in die proses glo die deur van die meisie se ouerhuis beskadig. ‘n Fiets het ook in die slag gebly, en volgens die man se klagstaat beloop die skade ongeveer R600.

Sover daar vasgestel kon word, het die man nie ‘n regsverteenwoordiger nie en sal hy weer in die hof moet verskyn sodra die polisie hom aangekeer het.

News - Date: 04 April 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: