ADVERTISEMENT:

 

Leon le Roux (regs), afgeneem tydens die tweede kwalifiserende rondte van die Suid-Afrikaanse Sterkman-kompetisie in Middelburg, saam met oefenmaat Andries de Beer (links) en Granite (middel), oftewel Garth Collins van Gladiators-faam. Foto verskaf.

Vyfde plek vir kragman Leon

 

Leon le Roux, die Soutpansberg se eie kragman en sersant-majoor op LMB Makhado, kon daarin slaag om ‘n vyfdeplek in te palm tydens die tweede kwalifiserende rondte van die Suid-Afrikaanse Sterkman-kompetisie.

Leon het die afgelope naweek op Middelburg skouers geskuur met van die land se sterkste kragmanne. Ongelukkig kon hy nie vir Ettiene Smit (voormalige SA Sterkman) en Tristen O’Brien (huidige SA Sterkman) ontmoet nie, aangesien hulle nie kon kom nie.

Tog was daar genoeg amateurs om ‘n 10-man uitdaag te laat plaasvind. Leon se oefenmaat, Andries de Beer (ook van LMB Makhado), het aanvanklik saamgegaan vir ondersteuning, maar is daar oorreed om ook deel te neem.

Daar is van die deelnemers verwag om bo-menslike gewigte rond te dra en op te lig. Eers was dit die “dead lift” kategorie, waar ‘n motordop van ongeveer 280 kg opgetel moes word. Toe volg die “overhead medley” waar ‘n boomstomp van 110 kg, ‘n 110 kg vaatjie en weer ‘n 125 kg stomp bo die kop uitgelig moes word. Die persoon met die beste tyd het gewen. Volgende aan die beurt was die “tyre flip”, waar ‘n 380 kg buiteband ses keer omgedop moes word, met die wenner weereens die een met die beste tyd. Die “farmers walk” het daarna gevolg het en het van deelnemers vereis om met 110 kg in elke hand ‘n afstand van 40 m te voltooi. In die “yoke walk” moes Leon daarna ‘n 300 kg gewig vir 20 m dra, waarna die kompetisie afgesluit is met die “atlas stone” gooi, waar ‘n 110 kg bal oor ‘n balk van 1,5 m gegooi moes word.

Andries het met die “dead lift” die beste gedoen, asook in die “farmers walk”. Granite, oftewel Garth Collins van Gladiators-faam, het met die “tyre flip” sy bisepspier geskeur en uitgeval. “Dit was by tye moeilik, maar lekker,” sê Leon.

Andries het op die ou end algeheel vierde geëindig, met Leon in die vyfdeplek.

“Ek gaan nie meer Randse Paasskou toe nie, maar op 7 Junie sal ek weer gaan deelneem in die minus-105kg-klas. Sou ek dan kwalifiseer, sal ek op 1 en 2 November aan die SA Sterkman-finaal gaan deelneem in die Menlyn Mall in Pretoria. Dit was ‘n groot ondervinding,” sê Leon.

Sport - Date: 04 April 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
Leon besig met die “tyre flip”, waar hy ‘n 380 kg buiteband ses keer moes omdop. Foto verskaf.
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: