ADVERTISEMENT:

 

Die sitkamerventer wat by die Bothas oopgemaak en die diefwering uitgebuig is. Buite die venster het die inbrekers netjies ‘n paar minder duursame items uitgepak, maar nie gevat nie.

Die duiwel is listig

 

Die duiwel is listig en ontsien niemand nie, nie eers die dominee nie ...

Ds. Rudolph Botha, leraar van die NG Kerk Soutpansberg in Makhado (Louis Trichardt), het Dinsdag ook die slagoffer geword van ‘n bende wat hul spesifiek daarop toespits om by wonings in te breek terwyl die inwoners slaap en hoofsaaklik elektroniese ware te steel. Of dit dieselfde bende is wat in Januarie vanjaar inwoners in veral die sentrale dele van die nuwe uitbreiding geterroriseer het, is nie seker nie, maar inwoners moet maar daarvan kennis neem dat hierdie “techno bende” weer bedrywig is.

“Ek het Dinsdag omtrent 05:45 wakker geword met ‘n hengse kopseer. Ek het opgestaan, ‘n pil gedrink en weer gaan slaap,” sê Rudolph. Hy en sy vrou, Edith, bly in Kwaggastraat. Omstreeks 08:15 het hy weer opgestaan en uitgestap straat toe om hul vullissakke uit te sit. Dit is toe dat hy opmerk sy heiningdrade hang pap. “Ek het dadelik om die huis gestap en gesien die sitkamervenster is oop en die diefwering is uitgebuig. My eerste gedagte was: Ag, die frustrasie!” sê Rudolph.

Met die nare besef dat hulle beroof is, was Rudolph se volgende aksie om ‘n skadebepaling te doen. Verbasend genoeg was daar niks vermis uit die sitkamer nie. Sy hoëtroustel, CD- en DVD-speler was onaangeraak. Die skok het gekom toe hy opmerk sy skootrekenaar, wat op die eetkamertafel gelê het, weg is. “Ek het gehoop dit is net die rekenaar, maar toe kom ek in die kamer waar ons geslaap het ...” sê Rudolph.

Beide hul selfone wat op hul bedkassie gelê het, asook Edith se skootrekenaar, was weg. “Ek het vir Edith wakker gemaak en gevra waar haar handsak is. Sy het gesê sy het dit langs haar [die bed] op die vloer gesit. My woorde aan haar was: Dan is dit ook weg ...” sê Rudolph.

Rudolph glo vas dat die inbrekers hom en Edith met iets moes verdoof het. “Ek is seker hulle moes ons deur ons kamervenster met iets gespuit het om ons te laat slaap. Ek slaap gewoonlik baie lig. Dit is waarom ek so verskriklik kopseer gehad het die oggend,” sê Rudolph. Hy sê hy het net na 01:00 die laaste keer op sy horlosie gekyk en daar was niks verkeerd nie. Vroeër die aand het sy honde wel baie buite geblaf, maar Rudolph kon niks ongerymd sien nie. Hy het selfs uitgestap tot in die straat om te kyk of hy iets kan sien, maar daar was niks.

“Ek voel nog nie regtig iets nie, ek reageer nog net. Ek dink net aan wat alles gedoen en uitgesorteer moet word,” sê Edith ná die polisie se besoek. “Wat vir my erg is, is die besef dat hulle letterlik langs my was, want my handsak het langs my bed gestaan,” voeg Edith by.

“Weet jy, dit is aardse dinge ... maar regtig, as jy nood het of hulp nodig het, vra my net. Moenie in my persoonlike spasie inkom en maak wat jy wil nie. Ek het nog nooit iemand by my huis weggewys nie en as ek jou nie kan help nie, dan sal die kerk help. Werklikwaar, ek sal uit my pad uit gaan om te probeer help,” sê Rudolph. Dit ergste vir hom is die wete dat die inbrekers langs hom en Edith in die kamer gestaan het. Bykomend is die frustrasie wat met die inbraak saamgaan om al Edith se kaarte, lisensies, ensovoorts te vervang.

“’n Groot deel van my werk is om mense te dien en te help ... Nee man, mens doen dit nie! Gebruik die regte kanale is jy hulp nodig het. Hier is so baie sisteme en organisasies in die dorp wat kan help. Jy kan enige tyd by hulle aanklop,” sê Rudolph.

Maar nood blyk in hierdie geval, soos in die ander gevalle vroeër vanjaar, nie die rede te wees vir die inbraak nie. Geen kos of klere is gesteel nie, net duur elektroniese ware. Inwoners word aangeraai om “wakker te slaap” na aanleiding van die jongste inbraak. Intussen duur die polisie-ondersoek voort.

News - Date: 04 July 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: