

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 August 2009
Die pas afgelope stakings deur munisipale amptenare en werkers, Makhado Munisipaliteit ingesluit, het ‘n gevaarlike militante inslag getoon wat nie by die vorige stakings teenwoordig was nie. Dit is ook so dat die stakers se optrede geensins oor vermaaklikheidswaarde beskik nie, maar eerder walglik en skokkend is om te aanskou.
Die optrede van die stakendes het baie vinnig verander vanaf ‘n vreedsame na ‘n aktiewe massa-aksie wat werklik nie anders beskryf kan word as barbaars nie. Die weersinwekkende optrede van die stakers getuig van ‘n onopgevoede, willose, ongedissiplineerde, gesiglose bourgeoisie wat deur middel van hul barbaarse optrede ‘n gemeenskap wil dwing om aan hulle eise te voldoen.
Aan die anderkant van die spektrum staan ‘n tandlose, gesaglose, besluitlose raad en bestuur wat nie instaat is om ‘n grotendeels onbevoegde, onmagtige, dissiplinelose amptenary behoorlik te bemagtig om hulle werk te kan doen nie. Dieselfde raad en bestuur stem vir hulle self vergoedingspakette toe wat grens aan die absurde. Die lydende party in hierdie sinnelose politieke interaksie tussen raad, bestuur en amptenary is die inwoners van die dorp en die “townships”.
Het dit dalk nie tyd geword dat die Belastingbetalersvereniging ‘n asblikdag reël waartydens elke inwoner Louis Trichardt en omgewing die geleentheid gaan kry om sy asblik met ‘n week se afval daarin op die stoep van die Makhado Munisipaliteit te kom omkeer nie? Hoekom, vra u – “want hulle is dit werd”. As die inwoners op dié wyse protesteer mag daar dalk net iets positiefs gebeur wat betref riolering, watervoorsiening en algemene dienslewering.
Een ding is seker, as die munisipale kiesers kon stem oor die toestaan van ‘n salarisverhoging vir die Makhado Munisipaliteit amptenary sou dit ‘n eenparige “nee” gewees het.
- Carel Breytenbach

ADVERTISEMENT:
