ADVERTISEMENT:

 

Nasionale Regering gaan ingryp

 

News  Date: 08 April 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Kort op die hakke van die Makhado Munisipaliteit se onlangse finansiële krisis, senior amptenare wat een na die ander geskors word en beskuldigings van wanbestuur, is daar die afgelope week aangekondig dat die nasionale regering gaan ingryp by die bestuur van die munisipaliteit.

Die Makhado Munisipaliteit is slegs een van twee munisipaliteite in die provinsie wat deur die nasionale regering geoormerk is vir administratiewe bystand as deel van die regering se Projek Konsolideer. Die projek is deur die nasionale regering in Oktober 2004 geloods as “vroeë waarskuwingsmeganisme” vir munisipaliteite wat op ineenstorting afstuur.

Die besluit van die nasionale regering om in te gryp by die Makhado Munisipaliteit is deur opposisie party, die Demokratiese Alliansie, verwelkom. Plaaslike DA-woordvoerder mnr. Kenny Maboho het in ‘n sterkbewoorde verklaring gesê daar was die afgelope paar maande heelwat “verskuiwings” in veral die Raad se finansiële, menslike hulpbronne en ekonomiese ontwikkelingsdepartemente. Hy sê die Makhado Munisipaliteit se bekendheid berus op korrupsie, wanbestuur, onbevoegdheid en nepotisme.

Ook die TLU-SA (Noordstreek) het hul tevredenheid met die minister van provinsiale en plaaslike regering, mnr. Sydney Mufamadi, se besluit uitgespreek om in te gryp by die plaaslike Raad.

Volgens mnr. Dries Joubert (Voorsitter van die TLU-SA Noordstreek) het rasgebaseerde regstellende aksie en onbevoegde raadslede grootliks bygedra tot die skouspelagtige ineenstorting van plaaslike owerhede. Hy het gesê dat, soos die rassistiese regstellende aksieprogram van die regering, Swart Ekonomiese Bemagtiging reeds verswakking van dienslewering tot gevolg het. Hy het die Makhado Munisipaliteit se wankelrige toestand toegeskryf aan swak dienslewering ten opsigte van onder meer behuising en paaie. Joubert het ook gesê dat die geen of uiterse swak betaling vir dienste van sekere woongebiede soos Vleifontein en Tshikota, verder die volhoubaarheid van die munisipaliteit gaan ondermyn.

“As Projek Konsolideer nie aandag gee aan die wanbetaling van dienste nie, is die projek nou al gedoem,” sê Joubert.

In reaksie op die afgelope week se aankondiging het mnr. Peter Magwala, waarnemende munisipale bestuurder van die Makhado Munisipaliteit, bevestig dat Projek Konsolideer reeds in werking getree het by die Raad. Die projek, sê hy, sal konsentreer daarop om vaardighede binne die munisipaliteit te verbeter met die hulp van buitekonsultante wat deur die Departement van Provinsiale en Plaaslike Regering aangestel is. Magwala sê dié personeel word deur die Departement betaal en hy het ook bevestig dat geen huidige personeellid van die munisipaliteit sy werk sal verloor as gevolg van die projek nie.

Magwala sê dat die projek sal konsentreer op die bestuur van alle departemente binne die munisipaliteit. Vir nou, sê hy, is die Raad se finansiële departement die eerste wat ondersteuning sal kry. Sedert September verlede jaar, toe die Raad nie sy maandelikse salarisrekening kon betaal nie, was dié departement telkens in die spervuur. Later sal ander departemente ook onder die loep kom.

Wat die tydsaspek betref, het Magwala gesê Projek Konsolideer is ‘n deurlopende projek oor ‘n tydperk van twee jaar.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines