ADVERTISEMENT:

 

40. Daisy en Plore ontdek Gomorra (Deel 2)

 

Daisy besluit dat Bernard ‘n uiterste boelie is. Weet die man dan nie hoe vreeslik gevaarlik Braamfontein is nie? ‘n Nes van dwelms en slawehandelaars en kardiewe ... Agterin Bernard se swart BMW begin Daisy aan haar duimnael kou. Uit die hoek van haar oog sien sy dat Plore lankal nie meer pienk en plesierig lyk oor Bernard se vinnige kar nie – eerder ‘n bleker weergawe van die Hoëveld se winterlandskap.

“Waar gaan ons parkeer, Ber­n­ard? Kyk net al die mense en die karre, en al die parkeergarages is vol! En daar is maar min wit gesigte hier rond...” Plore klink sommer soos ‘n onseker plaasseun sonder die ondersteuning van sy studentepêlle.

“Ag, sommer net hier waar die lapswaaier wys,” sê Bernard vrolik. “Hulle kyk mooi na die karre en ek ry wraggies nie wéér om die blok nie.” Toe eers kom Bernard agter hoe angsbevange sy passasiers lyk. “En nou?” vra hy. “Hoe lyk julle so bleek om die kiewe? Daisy, jy ken mos darem die stad...” Bernard se blou oë is geamuseerd. “Kyk daar bo op die dak, Plore. Almal staan in die son en drink bier. Kom, ek gaan koop vir jou en Daisy ook elkeen ‘n bier.”

“Watse plek is hierdie, Bernard?” vra Daisy benoud en klou sy hand styf vas terwyl hulle tussen die verkeer deur stap. “Is jy seker dis veilig? Lyk vir my maar...”

“Ag toe nou, Daisy,” kry Plore skielik sy manlike bravade terug. Hy gryp Daisy se ander hand. “Hoe kan jy nou bang wees tussen twee sulke groot boere soos ons?” Sy lag is nie sonder ‘n bietjie histerie nie.

Orals wriemel mense – in die algemeen jonk en pragtig, laggend. Die strate is vol groepe wat saamkoek voor ‘n winkel of luidkeels lag en gesels. ‘n Jazz-orkes speel op die sypaadjie, daar is mediamense met kameralense groter as haelgewere. Daar is kleur en klank en beweging, en uit die tale wat gepraat word, is dit duidelik dat die mense van al die uithoeke van Afrika én Europa kom.
By die ingang van die gebou word die drie oorval deur wonderlike aromatiese geure. Daisy kyk vraend na Bernard. “Is dit ‘n restaurant?”

“Nee, my mooiste Daisy. Dis ‘n kosmark – een van die bekendstes in Johannesburg. Die Neighbourgoods Market. Alles is tuisgemaak – tot die bier. Geen Charles Glass in hierdie plek nie – alles craft biere. Dis die nuutste gier.”

Dis ‘n miernes binne-in die gebou. En nes miere is daar simmetrie en orde. Die skare mense wat wissel van Skandinawiese wit-blou tot Nigeriese blouswart skuifel kloksgewys deur die stalletjies – vars oopgekapte kokosneute met strooitjies, kunsbrode, aroma­tiese kase, gepreserveerde vrugte, blatjang, rykblink sjokoladekoeke met frambose, chilisouse, gesonde rooi (beet), groen (seldery) en oranje (wortel) sappe gegeur met gemmer en appel, romerige roomys in prismakleure, Mediterreense meze, uitheemse soppe, potjiekos en stampmielies (kan jy dit glo!), Hollandse wafels, regte brêkfis...

Elke nou en dan stamp Plore aan Daisy. “Kyk daar, Daisy! Kyk daai twee mans – hulle loop en hande vashou! Oe, en kyk daai girl se kort rokkie – ek is seker sy het ‘n deel daarvan by die huis vergeet... En daai dude se arms is omtrent so groot soos my bo-bene! Kyk, Daisy – daai een het tattoes op elke denkbare plek, tot op sy kop!”

“Plore, jy moet sagter praat! Netnou word jy aangevat as jy so hardop die mense bespreek. En moenie so wys nie! Ek hol weg as een van hierdie brekers met die help-my-sterk-lyk hemde en goue kettings hulle brothers bymekaar kry om jou op te foeter!” Daisy giggel senuweeagtig.

Bernard maak plek aan ‘n tafel vir Daisy en Plore om te sit. “Wag julle nou net hier dan gaan kry ek vir ons iets om te drink. Daisy, wil jy ‘n bier hê of liewers ‘n mojito? Of wat van ‘n margarita?”

“As daar nou nie brannas en Coke is nie, lyk die mojito goed! Maar ek slyp eintlik my kwylspiere vir daardie paella daar agter jou! Het jy al ooit in jou lewe sulke groot panne gesien? Wat het jy gesien wat jy wil eet, Plore? Hier is nie T-bones en tjips nie...”

“Ek neem aan jy praat nou van kos, nê Daisy? Hoe kan ‘n mens nou dink aan kos as daar soveel mooi meisies is om na te kyk? Dink jy my familie sal my glo as ek hulle van hierdie plek en die mense vertel? Dis erger as Louis Trichardt op ‘n Saterdag aan die einde van die maand!” Hy staar oopmond na die massa mense.

“Jy durf nie vir enige lewende wese voor of agter die Berg vertel nie, Plore! Kan jy jou vir ‘n oom­blik indink in hoeveel moeilikheid jy gaan wees as daai boere van Waterpoort moet hoor die mooie meisies waarvan jy praat kom hoofsaaklik uit Afrika?”       

(Vervolg)

Daisy - Date: 08 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: