ADVERTISEMENT:

 

generiese foto

Uitspraak oor tenderklug ontlok reaksie

 

Die Hooggeregshof se uitspraak dat die toekenning van die tender vir die opstel van Makhado (Louis Trichardt) se nuwe waardasierol onregmatig en onwettig toegeken is, het reaksie uit talle oorde ontlok.

“Die uitspraak maak ons bekommerd dat daar meer tenderprosesse … van die munisipaliteit is wat dalk nie altyd 100% bo verdenking staan nie. Dit sal goed wees as meer tenderaars, wat weet dat hulle gekwalifiseerd is en op elke punt van die aansoek die beste is, na vore kom en sulke sake opper,” het plaaslike DA Raadslid Brian du Plooy gesê. Die DA sê hulle is al lank bekommerd oor tenderprosesse en –toekennings deur die munisipaliteit in die algemeen.

Du Plooy meen dat die hele tenderproses vir die waardasierol oorgedoen moet word. “Daar moet van voor af geadverteer word en ‘n gekwalifiseerde waardeerder aangestel word om regverdig te wees teenoor alle huiseienaars in die omgewing,” het Du Plooy gesê. Hy is van mening dat die munisipaliteit intussen op die vorige waardasierol met die vorige tariewe behoort te werk. “Die raad moet nie die huiseienaar ekstra belas as hulle ‘n moontlike tekort aan kontantvloei het nie,” het Du Plooy gesê.

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het reeds aan die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, ‘n kommunikasie gestuur dat hulle verwag dat die vorige waardasierol moet geld, totdat die regte prosesse gevolg is. “Ons eis dat huiseienaars belas word op die vorige rol se waardasies, al sou die nuwe tariewe dan daarop geld,” het me. Inga Gilfillan, voorsitter van die SBBV, gesê.

Intussen het die Makhado Munisipaliteit eensydig sekere huiseienaars se nuwe waardasies minder gemaak, ten spyte daarvan dat hulle aanvanklik talle huiseienaars se besware afgekeur het. ‘n Eiendom in Kroghstraat, wat met die nuwe waardasierol van R1.5m na R2.5m opgegaan het, se waarde is afgebring na R2m, alhoewel die eienaar se beswaar nie gehandhaaf is nie. In Rooibokstraat het ‘n huis se waardasie van R450 000 na R1.3m opgegaan. Op die nuutste munisipale rekening is die waardasie afgebring na R800 000, wat die eienaar voel is billik.  ‘n Huiseienaar in Celliersstraat was bly dat die waardasie van R1.3m na R900 000 laat sak is, sonder dat ‘n amptelike beswaar eers ingedien is. Nog ‘n huiseienaar in Vorsterstraat, wie se huis vir R2.2m gewaardeer is, het beswaar aangeteken, maar dit is nie gehandhaaf nie. Op die rekening is die waardasie nou R1.5m. “Dit is nog steeds te veel en ek gaan voort met die appèlproses,” het dié eienaar gesê.

Provinsiale AfriForum koördineerder mnr. Morné Mostert het hierdie week inwoners aangemoedig om met die appèlproses voort te gaan indien hulle meen dat hulle huiswaardasies nog steeds te hoog is.

News - Date: 08 August 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: