

ADVERTISEMENT:

News Date: 08 October 2010
Mnr. Jan Badenhorst, die 75-jarige boer van Levubu wat verlede Vrydag dood gevind is op die plaas wat hy bestuur het, is aan natuurlike oorsake oorlede.
As een van die streek se bekendste pioniersfigure, het mnr. Badenhorst ná hy sy plaas verkoop het op die plaas aangebly om dit vir die nuwe eienaar te bestuur. Soos sy gewoonte was, is hy vroeg Vrydagoggend landerye toe om die boerdery te behartig. Sy vrou, Sêrah, het begin bekommerd raak toe hy nie sy selfoon antwoord nie en familie en vriende het na hom begin soek. Sy liggaam is om ongeveer 14:00 sowat 2km vanaf sy woning deur ‘n buurman, mnr. Frikkie Scheepers, gevind. Mnr. Badenhorst het sowat 30m vanaf sy bakkie gelê.
Onmiddellik was daar spekulasie oor die oorsaak van mnr. Badenhorst se dood. Daar was egter geen teken van ‘n struweling nie en niks was van sy persoon of uit sy bakkie vermis nie. Hierop het die Soutpansberg Distrikslanbou-unie (SDLU) inwoners versoek om kalm te bly en eerder mnr. Badenhorst se familie te onderskraag in hul tyd van hartseer.
Vroeër hierdie week is dit bevestig dat mnr. Badenhorst aan ‘n hartaanval dood is, slegs dae ná sy verjaarsdag.
“Graag wil ons van hierdie geleentheid gebruik maak om die gerugte dat oom Jan vermoor is, te beëindig, en te sê dat hy wel aan natuurlike oorsake oorlede is,” het die familie gesê.
Mnr. Badenhorst was bekend as ‘n man van min woorde, maar met ‘n oop hand aan sy medemens.
“Iemand wat gegee het en nie dankies verwag het nie. Sy dood laat ‘n geweldige leemte wat nie gevul kan word nie, maar by die Here se wil moet ons berus. Alhoewel die hartseer van sy dood vlak lê, sal die herinneringe van hom vir altyd voortleef,” het die familie gesê.
Mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die SDLU, het sy medelye uitgespreek teenoor die Badenhorst-gesin. Mnr. Fanus Viviers, voorsitter van die Levubu Boerevereniging, het ook sy innige simpatie uitgespreek teenoor die gesin, familie en die gemeenskap van Levubu.
Die familie het almal bedank wat hulle bygestaan het, veral Mike en Alida du Toit, Niek en Salomé Lourens, Chris en Miem Esterhuizen, James en Louise van Heerden, Frikkie Scheepers, Andy Tonks, die TLU Plaaswag, die Le Roux- en Hoffman-familie, die polisie, dr. Badenhorst, dr. Gaigher en Jan Brink (AVBOB). Hulle het verskoning gevra as hul in hul verdriet iemand uitgelaat het.
“Maar weet ons waardeer almal se hulp, liefde, en ondersteuning,” sê die familie.
Mnr. Badenhorst laat sy vrou, kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, suster, familie en vriende agter. Hy word Donderdag, 7 Oktober (vandag) om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk op Louis Trichardt begrawe.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
