

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 January 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Hoërskool Louis Trichardt kan met goeie reg trots wees op die matriekgroep van 2003. Die vaandeldraer van die groep is Fritz-Jan van der Westhuizen, wat aangewys is as die toppresteerder in die Limpopo Provinsie.
Dit is die tweede keer die afgelope paar jaar dat Hoërskool Louis Trichardt die toppresteerder in die provinsie oplewer. Fritz-Jan behaal sewe onderskeidings, in die vakke Afrikaans Eerste Taal, Engels Tweede Taal, Wiskunde, Natuur- en Skeikunde, Rekeningkunde, Ekonomie en Rekenaarstudie, almal op hoërgraad.
"Wat sy prestasie meer merkwaardig maak is dat hy vir al sy vakke meer as 90% verwerf het. Alle Triegies kan met reg trots wees op die hoofseun van 2003," sê mnr. Henry Denner, hoof van die skool.
Fritz-Jan het verskeie trofeë van die Limpopo onderwysdepartement ontvang en was bevoorreg om die bekendmaking van die matriekuitslae by die parlement in Kaapstad op 30 Desember verlede jaar by te woon. Hy gaan vanjaar by die Universiteit van Pretoria studeer met die oog daarop om ‘n geoktrooieerde rekenmeester te word.
Nog ‘n leerling van die skool, Luhann Holtzhausen, vaar eweneens puik. Hy behaal ses onderskeidings op hoërgraad, in die vakke Afrikaans Eerste Taal, Engels Tweede Taal, Natuur- en Skeikunde, Rekeningkunde, Rekenaarstudie en Tegniese Tekeninge. Vir Wiskunde behaal hy ‘n B-simbool. Luhann, wat tans in Australië vakansie hou, beplan om bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria te studeer.
Drie leerlinge van Hoërskool Louis Trichardt behaal elk vier onderskeidings. Marguerite Rudolph verwerf A-simbole, vir Afrikaans Eerste Taal, Engels Tweede Taal, Biologie en Rekeningkunde, almal op die hoërgraad. Marguerite gaan BSc Biologiese Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria studeer met die oog op keuring vir Veeartsenykunde.
Karlien Visser se vier onderskeidings is vir Engels Tweede Taal, Aardrykskunde, Toerisme en Hotel en Spyseniering.
Karlien wil ‘n skoonheidsdeskundige word en gaan gevolglik Somatologie by die Akademie 2000 in Centurion studeer.
Roxanne Nel, wat in die Engels-medium klas was, behaal onderskeidings in Engels Eerste Taal, Afrikaans Tweede Taal, Aardrykskunde en Biologie. Roxanne het reeds ‘n betrekking aanvaar en wil later deur die pos studeer, moontlik in ‘n besigheidsbestuursrigting.
Nege leerlinge het drie onderskeidings elk. Die leerlinge is Stephan Boshoff (Afrikaans, Engels en Biologie), Susan Botha (Afrikaans, Engels en Biologie), Lourene du Plessis (Engels, Biologie en Rekenaarstudie), Riaan Engelbrecht (Engels, Tegnika Siviel en Tegniese Tekeninge), Lilian Meintjies (Afrikaans, Engels en Rekenaartik), Johesta Naudé (Afrikaans, Engels en Aardrykskunde), Minét Smith (Afrikaans, Engels en Aardrykskunde), Penny Southward (Engels, Toerisme en Hotel en Spyseniering) en Juanri Topham (Engels, Aardrykskunde en Toerisme).
Die matriekgroep van 2003 behaal in totaal 100 A-simbole en 111 B-simbole. Die algehele slaagsyfer is 99,3% met slegs een leerling uit die groep van 137 wat nie voldoen aan die minimumvereistes om te slaag nie.
Die eerste Engels-medium matriekklas in die skool se geskiedenis het ‘n 100% slaagsyfer behaal. Mnr. Denner sê dat hierdie klas beslis ‘n voorbeeld gestel het vir die res om na te volg.
"Verlede jaar se matriekuitslae spreek weer duidelik wat deur toewyding vermag kan word. Graag bedank ons elke personeellid wat oor die jare aan hierdie groep leerlinge gevorm het om hulle in staat te stel om suksesvol in hul matriekjaar te wees. Ons dorp beskik oor leerkragte wat weet wat dit is om suksesvol te wees en dit aan leerders kan oordra," sê mnr. Denner.

ADVERTISEMENT:
