

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 April 2012
‘n Bewaringsbewuste slangkenner van Louis Trichardt, mnr. Willie de Beer, ontvang sedert verlede Vrydag mediese behandeling nadat hy ‘n pofadder na veiligheid probeer help het.
Die pofadder van tussen 70 en 80cm lank is in sy gereedskapkamer op ‘n Vondeling-kleinhoewe aangetref. De Beer, wat al sedert die jare 60 doenig is met slange, het die pofadder se kop betreklik maklik met die lus van sy vangstok beetgekry en uitgetrek.
“Ek glo nie aan doodmaak nie en gaan gooi hulle maar altyd in die veld weg. Terwyl ek hom met die linkerhand agter die kop beetgehad het, het ek gevra dat iemand vir my ‘n houer bring. Met dié moes ek seker met die regterhand te naby beduie het, want skielik het ek net ‘n geweldig brandpyn gevoel. Dit was net ‘n krapmerk, wat onmiddellik erg begin swel het.”
Hy is vinnig na die hospitaal, waar 'n antibiotikum toegedien is. Hy moes sedertdien bykans daagliks vir opvolgbehandeling gaan. “Die behandeling werk goed, anders sou daar binne 48 uur blou kolle uitgeslaan en gate ingeval het,” merk hy op.
Terwyl hy by die hospitaal was, is die ondankbare adder tuis vankant gemaak.
Daar kom ‘n groot verskeidenheid slange op die kleinhoewe voor.
“Sowat vier weke gelede is ek amper gepik deur ‘n swart mamba van 2,6m by die bediendekamer. Ek dag eers dis ‘n spoegkobra. Die slang is agter die deur in en toe ek naderstaan, roep die huismense ‘Koes!’ Die mamba het opgeseil tot bo-op die deur en hy was net sowat 30cm van my kop af!”
Net ‘n week tevore het hy ‘n drie-meter-lange luislang by die stoorkamer gevang en gaan loslaat, sê Willie.
Hy glo slange moet beskerm word, omdat hulle, soos uile, nuttig is veral in plaagbeheer. Hy sê net ‘n klein persentasie van die slangspesies in Suid-Afrika is giftig. Die meeste slange, glo hy, is onskadelik en word onnodig doodgemaak weens onkunde. In al die jare wat hy slange vang en loslaat is dit die eerste “ lelike byt”, maar hy is nie kwaad vir hulle nie.
“Die meeste van hulle sal met die winter wyk,” sê hy.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
