ADVERTISEMENT:

 

Mnr. Gert Duvenhage van Laat Lente en Herfsakker wil glad nie eendag in die staatshospitaal doodgaan nie, veral nie na die lyding wat hy sy buurman, wyle mnr. Dries Van Niekerk, daar sien deurgaan het nie.

Dood ‘n dag ná hy uit staatshospitaal kom

 

News  Date: 10 May 2013

 

As jy kan loop, is jy sterk en kan ontslaan word ... Dit was blykbaar die mededeling wat personeel van die Louis Trichardt Gedenkhospitaal aan ‘n bejaarde emfiseem- en asmapasiënt gegee het kort voordat hy ontslaan is.

Die pasiënt, mnr.  Dries van Niekerk (72), is direk na sy ontslag uit dié staatshospitaal opgeneem in die Zoutpansberg Privaathospitaal, waar hy die volgende dag (22 April) oorlede is. 

Van Niekerk se buurman van ‘n paar huisies verder by Laat Lente en Herfsakker was ‘n week na die gebeure nog steeds geskok. “Ek wil eendag net hier in my huisie doodgaan, net nie in die staatshospitaal nie,” sê mnr. Gert Duvenhage (69). Hy het Van Niekerk op  Sondag, 21 April, op die vloer tussen sy hospitaalbed en bedkassie aangetref. Die bedkassie was onderstebo en alles bo-op het die wêreld vol gespat. Toe Duvenhage sy vriend se persoonlike besittings weer van die vloer begin optel het, sê hy, was hy geskok oor die hoeveelheid kokkerotte in die hospitaal.

“Ek sal daardie gesig en daardie geroepery nooit vergeet nie. Dries het aan my gesê dat die bedkassie onderstebo was omdat hy tevergeefs probeer het om hulle [verpleegsters] aandag te trek. Hy het van die bed afgeval. Hy het ook geroep, ‘Eina, eina, hulle het my seergemaak', ” sê Duvenhage en vertel voorts dat ‘n aantal mense in die saal besig was met werkies en hulle glad nie aan die pasiënt op die vloer gesteur het nie. “Toe ek  probeer om hom weer op die bed te kry, het een my kom help,”  sê Duvenhage.

Nadat Van Niekerk terug was op die bed, het Duvenhage ‘n suster gaan roep. “Sy het vir my gesê hy kan huis toe gaan, want  hy is sterk en kan self loop en sy het vir my sy pille saamgegee,” sê Duvenhage. Dit was die Sondag en Van Niekerk was reeds ‘n paar dae in die staatshospitaal, nadat Duvenhage die buurtwag en die ambulans laat kom het om sy buurman na die hospitaal te neem.

“Daar in die staatshospitaal het Dries vir my gelyk of hy tussen lewe en dood hang. Die Saterdagnag het hy my twee-uur gebel en gesê ek moet gou kom en sy eie draagbare suurstofmasjientjie kom regmaak, wat ek gedoen het. Met sy opname het hy al geskreeu, ‘Help, help, ek gaan dood’, maar dit het baie lank geneem voordat hulle hom op ‘n drip gekry het,” onthou Duvenhage.

Die Limpopo Departement van Gesondheid en Maatskaplike Ontwikkeling  het navrae oor Van Niekerk, sy behandeling en die toestande in die hospitaal beantwoord. Hulle het bevestig dat Van Niekerk op 18 April by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal aangekom het en later opgeneem is en op 21 April ontslaan is. “Die rede vir sy ontslag is dat die pasiënt gestabiliseer het en sy toestand verbeter het,” het provinsiale woordvoerder, Sinenhlanhla Gumede, Maandag per e-pos geantwoord. Volgens Gumede het die hospitaal geen rekord daarvan dat Van Niekerk van sy bed afgeval het nie. “Die hospitaal het hoegenaamd geen uitdaging (challenge) ondervind om kwaliteit gesondheidsorg en diens aan die pasiënt gedurende sy verblyf aldaar te verskaf nie,” sê Gumede. Wat die kokkerotte aanbetref, was die antwoord dat die gebou gereeld uitgerook word en dat daar geen risiko vir of voorvalle van kokkerotinfestasie is nie.  Gumede sê dat indien daar per toeval enige kokkerotte sou wees,  dit ‘n geïsoleerde voorval sou wees.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines