ADVERTISEMENT:

 

Vakbonde haaks na skorsing van twee beamptes

 

News  Date: 10 October 2003

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Lede van SAMWU en Imatu het die afgelope week ernstig koppe gestamp, na 'n voorval Maandagoggend (6de) by die munisipale store, wat gelei het tot die skorsing van twee munisipale beamptes.

Die twee beamptes, mnr. Jimmy Moodie, as lid van Imatu (Independent Municipal and Allied Trade Union), en mnr. P. R. Shirindza, as lid van SAMWU (South-African Municipal Workers Union), het klaarblyklik die oggend in 'n woordewisseling betrokke geraak, wat uitgeloop het op 'n worsteling. Mnr. Moodie is superintendent van die elektriese ingenieurs-afdeling.

Minute na die voorval het SAMWU-lede vergader en nie-amptelik begin staak, met die versoek dat mnr. Moodie onmiddellik geskors moet word. Intussen is die voorval aan die Raad se Direkteur: Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, gerapporteer, wat op sy beurt dit onder die aandag gebring het van die Munisipale Bestuurder, mnr. Reuben Rambado.

Mnr. Rambado het dadelik gelas dat beide mans geskors moet word, hangende die uitslag van 'n ondersoek rakende die omstandighede wat gelei het tot die voorval. Mnr. Moodie is kort daarna geskors, maar nie mnr. Shirindza nie. Teen Dinsdag het daar ernstige vrae begin ontstaan oor waarom mnr. Shrindza nog nie geskors is nie. Imatu het besluit om in te gryp en 'n vergadering is vir Woensdagoggend belê, waartydens die munisipale bestuurder en die burgemeester, versoek is om aan Imatu-lede die skynbaar partydige situasie te kom verduidelik. Tydens dié vergadering het dit aan die lig gekom dat mnr. Shirindza ook wel geskors is, maar eers Woensdagoggend. Die verduideliking wat gegee is, was dat hulle nie mnr. Shrindza vroeër kon opspoor nie. "Die vraag kan gevra word waarom mnr. Shirindza nie saam met mnr. Moodie Maandagoggend geskors is nie. Beide was tog by die werk, met mnr. Mapholi wat persoonlik mnr. Moodie se skorsingsbrief aan hom oorhandig het," het 'n woordvoerder van Imatu, mnr. Willie Scheepers, na aanleiding van Woensdag se vergadering opgemerk. Mnr. Scheepers het ook mnr. Mapholi se objektiwiteit in die aangeleentheid bevraagteken. Buiten hiervoor, het hy ook 'n ernstige vraagteken geplaas agter mnr. Mapholi se doelbewuste verontagsaming van 'n duidelik opdrag van die Munisipale Bestuurder. "Ons klagte ten opsigte van mnr. Mapholi sal op versoek van mnr. Rambado op skrif gestel word vir verdere ondersoek," het mnr. Scheepers gesê. Hy was vol lof vir die professionele wyse waarop mnr. Rambado die aangeleentheid hanteer het. Mnr. Rambado het op sy beurt bevestig dat die Raad reeds besig is met 'n ondersoek na die hele aangeleentheid.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines