ADVERTISEMENT:

 

26. Daisy vind ‘n kuur vir die trousiekte (deel 2)

 

Dis sterk skemer toe Daisy gedweë by die huis kom.
Met die eerste dreuning van Miss Soft Serve oor die stil werf, kom Ousus buitekant toe om vir Daisy in te wag.

“Waar was jy, Daisy?” Ousus mors nie tyd met smukpraatjies nie. “Die hele wêreld is op soek na jou – en veral Baardman is vrek bekommerd. Jy moet asseblieftog meer verantwoordelik wees, my sussie!” Daisy kyk na Ousus. Haar oë is bloedrooi gehuil en oor haar stowwerige gesig is daar wit traan­strepe. Sy lyk uitgeput en hulpeloos.

“Ousus, hierdie is nie kinderspeletjies nie! Of miskien is dit? Of anders perdekoop.” Daisy sug. “Ek is so deurmekaar soos ‘n groepfoto, Ousus. Ek weet regtig nie wat ek moet doen nie; ek wens Mamma het nog gelewe.”

“Kom ons gaan sit op die stoep, my sussie. Ek sal vir Jakobus vra om vir jou een van sy medisinale doppe te bring. Nie dat ek dit goed­keur nie, maar jy lyk vir my sleg! Om jou die waarheid te sê, dis lank­laas wat ek jou so ernstig gesien het. Kom, dan vertel jy my als en ons kyk wat ons kan doen.”
Ousus se deernis laat Daisy se onderlip bewe. Jakobus gee die hele petalje net een kyk, sit Daisy se dop neer en steek vir haar ‘n sigaret aan. Dan gaan sit hy in die huis voor die televisie en kyk Boer soek ‘n Vrou.

“Ousus, die saak staan so: vandat ek Luanie se bybie verlede naweek gesien het, het ek ‘n akute aanval van broeisgeit. Daai blonde krullebol en dimpels, die marshmallow handjies en oop­mondlag ... Nou wil ek ook ene hê!”

“Niks verkeerd dáármee nie, Daisy! Ek is verbyster dat jy so lank kon uithou. Is maar net jou biologiese klok...” Ousus kom nie verder nie.

“Ousus, en wat laat jou nogal dink dat ek hoegenaamd ‘n ma vir enigiemand kan wees? Ek is gemaak om te drentel deur die lewe, suburbia is beslis nie vir my nie! Is daar nie iets wat mens kan drink vir dié gekheid nie?” val Daisy haar redelik hard in die rede.

“En toe maak ek die grootste fout ooit! Ek het vir Baardman vertel en toe dink hy ek skimp om met hom te trou. En toe vra hy my. En toe loop ek weg, gaan koop ‘n sak vol tjoklits en gaan sit en dink langs die dam by die bosboma.”

Ousus storm op Daisy af en soen haar hele gesig vol pienk lipstiffie. “Baie geluk, Daise! Ek het sommer van die begin af geweet dat Baardman die man vir jou is! Jakobuuuus! Kom luister gou hier, en bring sommer nog ‘n dop vir Daisy!”

Ousus kom in haar voortvarendheid nie agter dat Daisy stil-stil in haar bed gaan klim nie.
‘n Week later sit Daisy en Ousus weer op die stoep en gesels. Baardman en Jakobus het teen sononder gery om wild te gaan kyk by die drinkdam.

“Daisy, ek kan nou nie langer wag nie. Vertel asseblief wat het gebeur toe jy by Baardman in Pretoria land? Is julle nou verloof; wanneer is die groot dag?”

“Ousus, was dit darem nou vir jou romanties! Hy het ‘n groot hart van daisies aan my kant van die bed gemaak, vir my ‘n skuimbad gaan intap met roosblare en kerse, vir my Kaapse Vonkel in die bad gebring en spesiaal Nina Simone gespeel. Toe ek klaar gebad het, het hy my in die snoesigste, warmste wit kamerjas toegedraai en ons het voor die kaggel die heerlikste coq au vin geëet. Die volgende oggend is hy lank voor my op en in die kombuis doenig. En toe ek my oë uitvee, staan hy voor die bed met die heerlikste brêkfis op ‘n skinkbord, saam met vars rose. En ‘n koerant! Hy weet mos hoe baie ek dit geniet om so met die wêreldnuus op my nugtermaag wakker te word.”

“Ai, my liewe sussie, hoe gelukkig kan een vrou nou wees met so ‘n droomman?” Ousus se oë raak skoon wasig. “Dis nie al nie! Vir twee dae het die man my ge-wine en ge-dine en geroosblaar en gebrêkfis innie bed ... Hy het my nie ‘n oomblik uitge­los nie. As ek op die bank gaan sit,  masseer hy my voete. As ek kosmaak in die kombuis en skielik omdraai, staan hy agter my. As ek verby hom loop moet hy my eers druk en soen.”

“Toe Luanie my bel en ons vir ‘n braai nooi, was ek vreeslik verlig. En natuurlik is daar ook daai pienk en wit popdogtertjie wat ek weer wou vashou en mee speel. Selfs daar was Baardman uit karakter! Kan jy glo dat hy ook die bybie wou vashou, en toe koer hy soos ‘n broeis tortelduif vir haar!”

“En toe wanneer praat hy weer troustories, Daisy? Vertel julle toe nie vir Luanie-hulle van julle planne nie?” Ousus raak ongeduldig.

Daisy lag uit haar maag uit. “Nee, Ousus. Daardie aand was toe sommer die einde van die trousiek­te. Toe ek nog so lekker met die bybie op my skoot speel na sy gedrink het, kom daar een vreeslike wind uit en toe sulke suur, kaserige melk oor my splinternuwe swart trui. En jy weet mos hoe voel ek oor opgooi ... Ek kon nie ophou gril nie, selfs nadat ek die bybie vir haar ma teruggegee het.

Baardman agtervolg my badkamer toe en pro­beer die trui skoonvee, maar al wat hy regkry is om die gemors oor ‘n groter area te versprei.”

“Toe skielik kan ek dit nie meer hou nie. ‘!@#$%&*!, Baardman!’ gil ek vir die arme man. Sal jy nou asseblief dadelik jou nonsens los en net weer normaal word? Ek het nou genoeg gehad, ek is verswelg en ek kan nie asem kry nie; jy versmoor my! Ek WIL nie trou nie – nie met jou nie, nie met enigiemand nie. En ek wil ook nie meer ‘n bybie hê nie – kyk net watse grillerige goed kom uit daai bekkie! So back off en word net weer die bosman wat ek ken. Jy is nie ‘n goeie metroman nie.”

“Ousus,” sê Daisy terwyl sy ‘n sluk brandewyn en Coke vat. “Ek het iets geleer: daisies mag miskien mooi lyk in ‘n glasvaas, maar vir Daisy druk niemand in ‘n blik nie!”

Daisy - Date: 11 April 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

News Correspondent

Correspondent journalists from all over the region supply us with news and sport articles. 

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: