ADVERTISEMENT:

 

Wyle mnr. Herman Scheepers, besig met sy gunsteling tydverdryf - visvang. Foto verskaf.

Skielike dood kom as groot skok

 

Die Soutpansberg-gemeenskap het met skok verneem van die skielike dood van mnr. Herman Scheepers (62) op sy neutplaas Enshala naby die Albasinidam op 2 April.

Wyle Herman is op 31 Maart 1952 op Vryheid, Kwazulu-Natal, gebore en was woonagtig op Babenango. Hy was die oudste van vier broers en vier half-broers.

In 1957 trek die familie na Newcastle en hy voltooi die grootste deel van sy laerskoolloopbaan by Laerskool Bedford op Mariepskop in die Hoedspruit-omgewing. Hy begin sy hoërskoolloopbaan by Tom Naudé in Pietersburg en vandaar is hy na John Vorster Hoërskool in Pretoria.

Herman begin werk vir Van Straaten Loodgieters in Pretoria en in hierdie tyd ontmoet hy sy vrou, Mientjie. Later neem hy die besigheid oor en roep die hulp van sy broer, Henk Scheepers, in. Hulle het vir lank as loodgieters gewerk, totdat hulle bankbestuurder hulle aangesê het om ‘n naam te kry vir hul besigheid. Vandaar af was hulle bekend as H&H Civils.

In 1978 kry die twee broers werk in Thohoyandou. Herman het die werk kom doen, terwyl Henk in Pretoria aangegaan het met subkontrakteirswerk. Hier raak Herman egter verlief op Louis Trichardt en die Bosveld en besluit om sy kantoor hier te stasioneer, sodat hy sy kinders hier kan grootmaak. Later het Henk hom na Louis Trichardt gevolg.

Die twee broers het vinnig vir hulself naam gemaak en het feitlik oor die hele land gewerk, tot so ver as Namibië waar hulle in 18 maande ‘n pyplyn deur die woestyn gelê het. Hulle was verantwoordelik vir die dorp se nuwe uitbreiding se water- en riool-uitleg, so ook Nancefield in Musina s’n. Siviele werk is onder andere ook gedoen in Nelspruit, Kuruman, Pietersburg en Burgersfort.

In 2001 besluit die twee broers om H&H Civils se deure te sluit en Herman begin om deeltyds te boer en voltyds vis te vang met elke geleentheid wat hy kon kry. “Visvang was sy passie vandat sy broers kon onthou. Hy was ‘n ware visserman,” onthou sy familie hom.

Herman was ‘n man wat jou hand geskud het en jou woord gevat het. “Hy het jou woord geglo en nie ‘n kontrak nie en so ook was sy woord sy eer. Hy was ‘n wyse man wat vir baie mense raad gegee het. Hy sal ook onthou word vir sy nederigheid; ‘n man van min woorde wat altyd tyd gehad het vir die mense om hom,” sê die familie.

Herman word oorleef deur sy vrou, drie kinders en vyf kleinkinders. Hy is Dinsdag, 8 April, vanuit die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente begrawe. Die diens is waargeneem deur ds. Philip Venter.

“Baie dankie aan al die familie en vriende vir julle woorde van vertroosting. Jammer, maar daar is te veel om te noem. Wees egter verseker dat elkeen se woorde opreg waardeer word. ‘n Spesiale woord van dank gaan egter aan Willem en Petra van der Merwe, voorman Steven en plaaspersoneel, Fritz Ahrens, drs. André van der Walt en Fred Badenhorst, Reta Pieterse, Jacques Bouwer en al die mense wat gehelp het met die verversing, insluitend Kallie Hancke, Elmarie O'Linsky, Amanda Cronjé, Rina en Marina de Swardt en die NG Kerk Soutpansberg,” sê die familie.

News - Date: 11 April 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: