ADVERTISEMENT:

 

Saterdagmiddag is twee voertuie bykans afgeskryf op die hoek van Akasia- en Elandstraat, ook omdat die stoptekens al weke gelede verwyder is.

Is die dorp besig om in wetteloosheid te verval?

 

Is Makhado (Louis Trichardt) op pad na ‘n staat van absolute wettelose verval?

Menige inwoner het hulself al dié vraag afgevra, veral ten opsigte van die wetteloosheid op die dorp se paaie. Selde word daar by stopstrate gestop, en soos een leser onlangs opgemerk het: “Stop jy by ‘n stopstraat, dan is die kanse goed dat jy dalk ‘n ongeluk gaan veroorsaak!”

Die probleem word deurlopend vererger deur boosdoeners en vandale wat kort-kort blykbaar groot genot daarin vind om bestaande stoptekens by kruisings te verwyder, ongeag die moontlik noodlottige gevolge wat dit vir motoriste inhou.

Sowat drie weke gelede is feitlik al die oorblywende stoptekens in hoofsaaklik Elandstraat, maar ook in Munnikstraat, deur iemand verwyder of beskadig. Op Dinsdag, 24 Junie, het die Zoutpansberger die Makhado Munisipaliteit versoek om duidelikheid te gee of hulle ooit die stoptekens weer gaan vervang. ‘n Lys van kruisings waar stoptekens verwyder is, is aan die munisipaliteit verskaf. Hulle is ook gevra of hulle gaan verantwoordelikheid aanvaar vir enige lewensverlies of beserings wat inwoners opdoen weens die vermiste stoptekens. Daar is in die medianavraag aan hulle uitgewys dat vermiste stoptekens op die hoek van Alwyn- en Leeustraat reeds op 31 Maart aanleiding gegee het tot ‘n ernstige ongeluk, maar steeds is nog geen poging aangewend om hierdie stoptekens te vervang nie. So ook is die stoptekens by die besige Baobab- en Elandstraatkruising ook nog nie vervang nie. Dit ten spyte van die feit dat die Zoutpansberger reeds op 26 Maart persoonlik die munisipale bestuurder, mnr. Sakkie Mutshinyali, versoek het om die probleem reg te stel en lewensverlies te verhoed. Mutshinyali het aangedui dat hy dadelik daaraan sal aandag gee. Tot op hede het daar egter nog niks gebeur nie.

Saterdagmiddag is twee voertuie bykans afgeskryf op die hoek van Akasia- en Elandstraat, ook omdat die stoptekens al weke gelede verwyder  is. “Ek het julle mos gesê hier gaan ‘n ongeluk kom,” het ‘n nabygeleë inwoner, mnr. Heine de Jager, ná die ongeluk opgemerk. Buiten die stoptekens wat aan beide kante van Elandstraat oor Akasiastraat vermis word, is die padmerke wat die stopteken aandui bykans onsigbaar.

Die Makhado Munisipaliteit het hierdie week, na verskeie oproepe om te reageer, eindelik kommentaar gelewer. Op die vraag of hulle bewus is van die vandalisme en of hulle die saak by die polisie aangemeld het, was daar geen antwoord gewees nie. So ook het hulle nie reageer op die vraag of die munisipaliteit gaan verantwoordelikheid aanvaar vir enige lewensverlies of beserings by die probleemkruisings nie. Al wat munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi gesê het, was dat hulle moontlik voor die einde van Julie die vermiste stoptekens sal vervang, aangesien hulle nuwe materiaal aangekoop het. Hy het ook aangedui dat hulle die staalpale waarop die stoptekens gemonteer word met houtpale gaan vervang, aangesien die staal gesteel word deur mense wat sukkel om ‘n lewe vir hulself te maak.

Die Zoutpansberger se raad aan inwoners, ten minste tot die stoptekens vervang word, is: Stop eerder by elke kruising, al is daar nie ‘n stopstraat nie.

News - Date: 11 July 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
Die stopteken op die hoek van Munnik- en Jeppestraat wat iemand probeer omstoot het gedurende die naweek van 21 en 22 Junie.
Die stopteken op die hoek van Erasmus- en Munnikstraat is dieselfde naweek uitgetrek en op die sypaadjie neergegooi. Dié stopteken het teen druktyd hierdie week steeds daar gelê.
Die stopteken op die hoek van die besige Bauhinia- en Elandstraat het ook die naweek van 21 en 22 Junie deurgeloop. In die agtergrond kan die spinmerke gesien word van hoe daar met ‘n voertuig probeer is om die stopteken te ontwortel.
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: