ADVERTISEMENT:

 

Wyle Annemarie (Anna) Thomson.

Jong ma oorlede ná sy by gimnasium inmekaarsak

 

Die onverwagte afsterwe van ‘n jong vrou en moeder van die Soutpansberg het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Wyle Annemarie Thomson (38) se bedroefde eggenoot en familie dink hartseer aan haar borrelende geaardheid en pragtige glimlag. “Sy het elke dag passievol geleef,” sê die familie. Hulle is geskok en verslae nadat Anna, soos sy algemeen bekend was, verlede Donderdagmiddag by die gimnasium tydens ‘n oefensessie inmekaargesak het. Mond-tot-mond-asemhaling en hartmassering is onmiddellik op haar toegepas. “Sy is inderhaas na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem, waarna sy aan natuurlike oorsake dood is. Daar word ‘n na-doodse ondersoek gedoen om die oorsaak te bepaal,” het die familie gesê.

Annamarie Jordaan is op 4 Januarie 1976 in Louis Trichardt gebore, was ‘n leerling by Laerskool Louis Trichardt en het in 1994 aan die Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer. Sy is in 2001 met Mark Thomson getroud en drie pragtige dogters is uit die huwelik gebore, Tenica (8), Cheali (5) en Kaylin (2). Die gesin is woonagtig op Lugmagbasis Makhado. Mark is ‘n vlugsersant wat die afgelope 21 jaar by 3 Versieningseenheid werk en tans vakleerlinge oplei in die elektriese aspekte van vliegtuie. “Anna was ‘n voorbeeldige vrou en moeder wie se familie vir haar nommer een was,” sê Mark.

Daarmee stem die familie heelhartig saam. “Anna was ‘n ware ‘voorbeeld mamma’. Sy sou enige iets vir haar gesin doen en vir almal vir wie sy omgegee het. Ons het haar altyd gesien met haar kinders aan haar sy. Niks was ooit te veel of te moeilik vir haar met haar dogters by haar nie,” sê Anna se suster, Jani Horn. Jani vertel dat die agtjarige Tenica dadelik begin het om haar pappa te help met die versorging van die kleiner sussies.

Anna het ‘n administratiewe pos by die lugmagbasis beklee en was ‘n debiteureklerk by die NPF-afdeling (Non-public Funds).

Wyle Anna word oorleef deur haar man, drie dogters, moeder Marietha Jordaan Vreugdenburg, suster Jani en broer Eddie Jordaan, wat in die VSA woonagtig is en terug gevlieg het om die begrafnis te kan bywoon. Die begrafnis vind op Vrydag, 11 Julie, om 10:00 vanuit die N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente plaas en word waargeneem deur ds. Johan Fourie. 

Mark en familie bedank Felix en Lee Malan en almal by Open Doors vir hul vinnige optrede en hulp, dr. Anneke Malan en die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal, almal in die gemeenskap vir die oproepe en SMS’e en die gemeenskap van die lugmagbasis vir al die kospakkies wat aangedra word.

News - Date: 11 July 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

Email:

ADVERTISEMENT: