ADVERTISEMENT:

 

Raad moet opdok om boeke te laat klop

 

News  Date: 12 August 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Te midde van die Makhado Munisipaliteit se pogings om weer finansiële stabiliteit te bewerkstellig, het die kantoor van die Ouditeur Generaal nou ‘n spesiale ondersoek gelas na ongerymdhede rakende die raad se finansiële state vir die periode 1 Mei 2001 tot 31 Desember 2003.

Ernstige misstande ten opsigte van die state het veroorsaak dat die kantoor van die Ouditeur Generaal enige mening ten opsigte van die state weerhou het. Die Makhado Munisipaliteit se Munisipale Bestuurder, me. Faith Muthambi, het bevestig dat so ‘n ondersoek gelas is en dat dit die eerste keer is in die geskiedenis van die munisipaliteit dat die kantoor van die Ouditeur Generaal hul mening weerhou ten opsigte van die raad se finansiële state. Sy het egter benadruk dat die krisis ten opsigte van die betrokke finansiële state vanaf ‘n vorige munisipale bedeling, onder die omstrede burgemeester rdl. Brighton Tlakula se bewind, oorgeërf is. Tlakula het in Augustus 2003 as burgemeester bedank weens wat hy genoem het “gesondheidsredes”. Hy het ontken dat hy weens politiek druk gedwing is om die tuig neer te lê.

Bewys van die finansiële krisis waarin die Makhado Munisipaliteit hom bevind het in September 2004 aan die lig gekom, nadat dat die Raad ‘n lening moes maak om hul salarisrekening van digby die R4 miljoen te betaal. ‘n Paar maande later, in April 2005, te midde van toenemende ongelukkigheid tussen belastingbetalers oor verskeie munisipale rade se swak dienslewering op nasionale vlak, is aangekondig dat die Makhado Munisipaliteit slegs een van twee munisipaliteite in die provinsie is wat deur die nasionale regering geoormerk is vir administratiewe bystand as deel van die regering se Projek Konsolideer. As deel van die projek het die raad se Direkteur Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala, gesê dat Projek Konsolideer op plaaslike vlak eerste sal aandag skenk aan die raad se finansiële afdeling.

In ‘n skrywe aan die raad, sê die kantoor van die Ouditeur Generaal dat hul ondersoek sal konsentreer op beweerde ongerymdhede in die toekenning van twee elektrifikasie tenders. Voortspruitend hieruit is die beweerde oorbetaling van konsultante met betrekking tot die tenders. Verder word melding gemaak van ‘n kontanttekort in die state vir die periode 5 tot 8 Desember 2003. Beweerde ongerymdhede met die aankoop van ongeveer R11 400 se goedere by ‘n plaaslike handelaar en beweerde bedrog ten opsigte van die oortydbetalingstelsel sal ook deur die Ouditeur Generaal ondersoek word.

Die Ouditeur Generaal se ondersoek kom egter nie sonder onkoste nie. In die skrywe aan die munisipaliteit sê die kantoor van die Ouditeur Generaal hulle is bewus van die raad se probleme ten opsigte van hulle kontantvloei. Die ondersoek sal die raad R450 000 (BTW uitgesluit) uit die sak jaag en die Ouditeur Generaal beveel aan dat die raad na alternatiewe bronne van befondsing kyk om vir die ondersoek te betaal. Genoemde bedrag sluit nie kostes ten opsigte van beamptes van die kantoor van die Ouditeur Generaal wat gedagvaar word om in siviele of kriminele sake te getuig wat spruit uit hul ondersoek in nie. Dit sluit onder andere ook nie vervoerkoste in nie.

Me. Muthambi het gesê dat sy nie kan sê wanneer die ondersoek gaan begin nie, aangesien die R450 000 nog vir hulle ‘n kopseer is. Daar is nie begroot vir só ‘n ondersoek nie. Volgens me. Muthambi het hulle die opsie om die geld te verhaal uit finansiële skenkings wat aan die raad gemaak is. Dit blyk egter dat die raad nie te geneë is om dié opsie uit te voer nie. Die ander opsie is dat die provinsiale regering vir die ondersoek moet opdok.

Ten spyte van onsekerheid oor wie vir die ondersoek moet betaal, sê me. Muthambi dat die ondersoek ‘n noodsaaklikheid is.

“Solank as wat die ondersoek nie gedoen word nie, sal dit ‘n negatiewe impak hê op die raad se toekomstige finansiële state.”

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines