ADVERTISEMENT:

 

Die 21 dragtige verse waar hulle in ‘n lang, reguit ry dood lê in die veld, nadat hulle deur weerlig getref is. “Die hartseer is 'n mens kan niks met die vleis doen nie. Al wat ons kon doen, was om die laaigraaf in te bring, ‘n gat te grawe en hulle toe te stoot,” het eienaar mnr. Brink Schlesinger gesê. Foto verskaf.

Weerlig slaan 21 van boer se beeste dood

 

Ná Sondagmiddag se hewige donderstorm het mnr. Brink Schlesinger nog opgemerk dat hy dankbaar is vir die 15mm reën wat hy op sy plaas ontvang het, terwyl ander boere niks gekry het. Dit was egter voordat hy uitgevind het die weerlig het 21 van sy dragtige verse doodgeslaan.

Schlesinger, van die plaas Black Stone bo-op die berg naby Waterpoort, vertel dat hulle Sondagmiddag nog die trop dragtige verse in ‘n kamp laer af teen die berg ingejaag het. “Ons vat hulle so twee weke voordat hulle moet kalf na die vlakte. Ek wil nie hê hulle moet in die berg kalf nie, want dan vang die luiperds die kalwers,” het Schlesinger gesê.

In daardie stadium was daar nog geen aanduiding van enige donderstorm nie. Sowat ‘n uur nadat hulle in die nuwe kamp ingejaag is, het die verse egter dood gelê in die veld nadat hulle deur weerlig getref is. Schlesinger het eers Maandagoggend van sy verlies uitgevind, nadat sy beeswagters op die skokvonds afgekom het.
“Dit is so ‘n skok om die beeste so te sien,” het Schlesinger gesê. Skaars drie weke vantevore het hy nog aan ‘n vriend opgemerk dat hy bly is hy boer nie meer met gewasse nie. Dit nadat heelparty boere hulle hele oeste verloor het in die onlangse verwoestende haelstorm in die Waterpoort/Vivo-omgewing.

“Ek het baie simpatie met daardie boere,” het Schlesinger gesê. Hy wil nie te veel tob oor sy verlies nie. “Dit was ‘n frats,” het Schlesinger gesê. Tog is die dood van sy 21 verse vir hom ‘n dubbele verlies – eintlik 42 beeste, as almal gekalf het. Hy beraam sy verlies op tussen R200 000 en R300 000.
Beeste wat deur weerlig doodgeslaan word, is egter nie ‘n ongewone verskynsel in dié omgewing nie. Hy vertel dat weerlig in 2007 op die buurplaas Bushy-Rise vyf koeie doodgeslaan het en in 2009 vier koeie met kalwers op dieselfde plaas.

“Ons het spesifieke kampe al op Bushy-Rise waar die beeste nie hierdie tyd van die jaar loop nie, juis as gevolg van die donderstorms en weerlig. Dit is egter die eerste keer dat dit op my plaas gebeur,” het Schlesinger gesê. Hy sê hy weet nie hoekom die weerlig so lief is om daar so gereeld te slaan nie.
“Die hartseer is 'n mens kan niks met die vleis doen nie. Al wat ons kon doen was om die laaigraaf in te bring, ‘n gat te grawe en hulle toe te stoot,” het Schlesinger gesê.

News - Date: 12 November 2011

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: