

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 February 2012
Die Makhado Munisipaliteit het weereens swak gevaar wat betref sy finansiële praktyke, met die Ouditeur-Generaal (OG) wat sy mening weerhou het ten opsigte van die munisipaliteit se finansiële state vir die jaar eindigende 30 Junie 2011. In die vorige verslag het die OG ook sy mening weerhou (disclaimer of opinion).
Die Makhado Munisipaliteit het nie die verslag op 31 Januarie tydens die Raadsvergadering beskikbaar gestel soos wat die OG van hom verwag nie.
Die Zoutpansberger het plaaslike geöktrooieerde rekenmeesters van Venter, Viljoen en Malan gevra om die ouditverslag te vertolk.
“Hierdie is nie ‘n mening wat oor die oudit van die OG uitgespreek word deur Venter, Viljoen en Malan nie, maar slegs ‘n vertolking van die OGl se ouditverslag,” sê mnr. Ferreira Nel en me. Elanie Havinga.
Die rekenmeesters verduidelik dat daar drie menings uitgespreek kan word. ‘n Ongekwalifiseerde mening beteken dat die finansiële state in alle wesenlike opsigte ‘n akkurate voorstelling van die stand van sake is. Tweedens is daar ‘n gekwalifiseerde mening, ook genoem ‘n “afgesien van” mening. Afgesien van die feite wat in die basis vir ‘n ouditmening genoem word, is die finansiële state in alle wesenlike opsigte ‘n akkurate voorstelling van die stand van sake. Derdens is daar die ergste - 'n weerhouding van mening, waar die onsekerhede so wesenlik is dat dit nie moontlik was om voldoende ouditbewyse te vind om ‘n mening oor die finansiële state te vorm nie. Dus spreek die ouditeur geen mening oor die finansiële state uit nie.
Die OG kon nie by die munisipaliteit voldoende ouditbewyse vind om hulleself te vergewis van die korrekte voorstelling van die syfers vir die balanse, eiendom, aanleg en toerusting, bank en kontant, debiteure en krediteure in die balansstaat nie.
“Die balanse kon dus meer of minder op jaareinde gewees het en die omvang van die verskille kon ook nie bepaal word nie. In die lig van beduidende verskille en wesenlike onsekerhede en die feit dat die OG nie toereikende en toepaslike ouditbewyse kon vind vir ‘n basis vir ‘n ouditmening nie, het hy sy ouditmening weerhou,” sê Havinga.
Hieronder word slegs drie vanuit ‘n hele aantal van die mees beduidende verskille genoem.
* Onbekende deposito’s is in die bank ontvang ten bedrae van amper R18.9m. Dit is minder as die vorige jaar se onbekende deposito’s van R48.7m. Aan die anderkant is kwitansies uitgereik vir R19.6m, wat nie aan ‘n spesifieke deposito in die bank verbind kan word nie.
* 'n Aansienlike hoeveelheid eiendomme is geregistreer in die munisipaliteit se naam by die aktekantoor, maar is nie in die finansiële rekords opgeneem nie. Bates wat nie aan die munispaliteit behoort nie verskyn ook in die finansiële rekords.
* Bates ten gunste van die munisipaliteit van R57.2m kon nie bevestig word nie. Dit bestaan uit ‘n bedrag van sowat R48.9m wat aangetoon is as ontvangbaar vanaf die distriksmunisipaliteit. Voldoende ondersteunende dokumentasie kon nie gevind word om hierdie bedrag te bevestig nie. Verder kon ‘n bedrag van R8.3m in die debiteure kontrolerekening (clearing account) nie verduidelik word nie.
“Dit is die verantwoordelikheid van die bestuur om toereikende en doeltreffende beheermaatreëls in plek te stel om bedrog en foute te voorkom,” sê Nel.
Verskeie tekortkominge van die munisipale bestuur word in die verslag uitgelig. Dit sluit ondermeer in:
* Die munisipale bestuurder het nie redelike maatreëls in plek gestel om ongewone en onnodige uitgawes te voorkom nie;
* Die munisipale bestuurder het nie redelike bestuurs-, rekenkundige en inligtingsisteemmaatreëls in plek gehad om te verseker dat daar behoorlik vir die krediteure van die munisipaliteit verantwoording gedoen kan word nie;
* Die munisipale bestuurder het nie alle redelike stappe toegepas om te verseker dat voldoende en effektiewe interne beheer oor die bates van die munisipaliteit toegepas word nie;
* Kontrakte is toegeken aan persone in diens van staatsinstellings; en
* Bedrae verskuldig deur die munispaliteit is nie altyd binne 30 dae betaal nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
