

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 February 2012
Die vreugdevure het hoog gebrand toe die Makhado Munisipaliteit buite die hof geskik het en die kragtoevoer van lede van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) weer aangesluit het.
Die dringende tussentydse hofaansoek om die munisipaliteit te verplig om die krag weer aan te sluit, sou om 09:30 Vrydag (3de) in die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria dien. Die munisipaliteit het egter besluit om voor die tyd te skik. As’t ware op die trappies van die hof is die skikkingsvoorstel ingedien en deur die SBBV aanvaar.
“Om die waarheid te sê, hulle het die oggend 08:00 al begin om die lede se krag aan te sit. Ons is baie, baie bly,” sê die SBBV bestuurder, me. Aretha Smith. Teen Woensdag verlede week was 53 lede se krag reeds gesny.
Soos wat gewoonlik in so ‘n tipe situasie gebeur, het bejaardes en kinders die meeste aan die pen gery. Een 83-jarige pensioenaris wie se krag gesny is, het gesê dat hy ‘n diabeet is wie se insulien in die yskas moet bly. Hy het al sy maand se kos en vleis, wat in die vriesgedeelte bevries was, verloor. Normaalweg doen hy houtwerk om sy pensioen aan te vul, maar die gebrek aan elektrisiteit het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Die SBBV het vir dié pensioenaris, soos vir ander lede, ‘n kragopwekker voorsien, wat hom met groot dankbaarheid vervul het.
‘n Kleuterskool kon nie kos voorberei vir hul kinders nie en het ‘n kragopwekker op die rekening van die vereniging ontvang. Dit is dus geen wonder nie dat die gemeenskap vol vreugde en dankbaarheid was toe die skikking gekom het.
“Dit is ‘n reusestap vir geregtigheid (a giant leap for justice),” het me. Jana Smith van die SBBV gesê. Die ondervoorsitter van die SBBV, mnr. Solly Maano, het veral die vroue van die span geprys. "Julle drie, Aretha, Jana en Inga, is ‘n formidabele span … Ek is baie trots op julle. Ons moet feesvier!” was Maano se opmerking.
Onmiddellik ná die nuus van die skikking het die voorsitter van die SBBV, me. Inga Gilfillan, gesê dat sy almal nooi om saam te staan vir ‘n mooi skoon dorp met skoon administrasie, skoon water, goeie paaie en goeie dienste.
Die munisipaliteit het gesê dat hulle lede van die SBBV se elektrisiteitsvoorsiening gestaak het as gevolg van “nie-betaling en agterstallige betaling”.
SBBV-lede betaal hul munisipale rekening se geld by ‘n trustfonds in. Die verbruikgedeelte word maandeliks aan die munisipaliteit oorbetaal en die res word in die fonds teruggehou. Die weerhoudingsaksie vind plaas volgens ‘n wettige dispuut wat die SBBV in Augustus 2008 met die munisipaliteit verklaar het oor swak dienslewering en wanbestuur.
Vanaf 24 Januarie het die munisipaliteit begin om van die lede se krag af te sny.
Die vraag ontstaan waarom die munisipaliteit besluit het om te skik en die krag aan te sluit. Die munisipale woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, se antwoord was dat die saak sub judice is, aangesien “beide partye nog in die hof moet ontmoet voor einde Februarie.”
Die hofbevel is intussen beskikbaar gestel (sien berig elders).
Die groot vraag is wie al die onkostes gaan dra. Dié vraag is ook deur Bobodi ontduik met die gebruiklike “sub judice” antwoord.
Gilfillan het gesê dat hulle poog om ‘n kostebevel teen die munisipaliteit te verkry wat die regskostes en ook die kostes van die kragopwekkers en brandstof sal insluit. Die aansoek behoort binne twee of drie maande voor te kom.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
