ADVERTISEMENT:

 

Selfmoord nie die oplossing nie

 
Naas motorongelukke is tienerselfmoord die grootste oorsaak van tienersterftes in Suid-Afrika. Die kwessie van selfmoord het weereens opgeduik nadat ‘n tiener van Louis Trichardt na bewering die afgelope naweek probeer selfmoord pleeg het.

Volgens deskundiges en navorsers is selfmoordgedrag baie ingewikkeld en kan dit nie aan net een enkele oorsaak gekoppel word nie. Die tiener se persoonlike geskiedenis, die onmiddellike omgewing, groter sosiale omgewing, asook kultureel/spirituele oortuigings kan ‘n rol speel. Selfs genetiese faktore kan ‘n rol speel. Navorsing het ook getoon dat tieners wat probeer selfmoord pleeg of wel gepleeg het, dikwels uit ‘n familie kom waar daar reeds voorheen selfmoorde was. Mediese faktore soos ‘n ongeneeslike siekte, ‘n geskiedenis van psigiatriese probleme en substansmisbruik kan die risiko van selfmoord verhoog. Persoonlike verlies of hartseer soos die dood van ‘n geliefde of die uitsluiting uit ‘n sportspan kan as baie traumaties beleef word.

Daar is twee groepe van selfmoordpogings, naamlik ‘n openlike en verskuilde selfmoordpoging. ‘n Openlike selfmoordpoging behels dat ‘n persoon fisies poog om hulself dood te maak en ‘n verskuilde selfmoordpoging kan behels die oormatige misbruik van drank en dwelms, ooreet of niks eet nie en ‘n losbandige seksuele lewe.

Deur die tekens reg te lees, is dit vir persone soos ouers moontlik om ‘n tiener te help, voordat dit te laat is.

‘n Paar tekens om op bedag te wees, sluit in die weggee van hul besittings, onttrekking van normale aktiwiteite, ‘n beheptheid met die dood, onlangse dood van ‘n geliefde, gevoelens van hopeloosheid en waardeloosheid, verhoogde drank/dwelm misbruik, verbale leidrade (”Ek beteken nie meer vir iemand iets nie”), geïrriteerdheid en isolering van hulleself, verwaarlosing van persoonlike netheid, en persoonlikheidsveranderinge. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat tieners wat wil selfmoord pleeg nie altyd direk so sal sê nie en eerder ‘n hoë-risiko leefstyl sal begin volg. Talle “ongeluk” sterftes is in werklikheid gemaskerde selfmoord.

As ‘n tiener hierdie onderwerp aanroer, is dit ontsaglik belangrik vir persone na aan hom/haar om tyd te maak om daaroor te praat. Vestig hul aandag voortdurend op die posi-tiewe en bedien hulle met aanmoediging en bemoediging.

Dit is ‘n leun dat almal wat ‘n selfmoordpoging oorleef het net wou aandag trek. Dit is ‘n noodkreet na iemand wat hul innerlike pyn sal verstaan.

Hester Beukes, plaaslike maatskaplike werker, het ‘n beroep gedoen op die dorp se jeug en sê, “Ek doen daagliks berading met jongmense en wil hulle groot asseblief motiveer om met iemand te gesels, in watter omstandighede ookal. Daar is altyd ‘n ligpunt in elke donkerte in jou lewe. Dit is nie nodig om tot sulke drastiese stappe oor te gaan nie; daar is altyd hoop. As mens vaardighede aanleer om emosies en groepsdruk reg te hanteer, kan mens meer as net ‘n oorwinnaar uit tree. God is ook besig om ‘n geslag jong kinders uit die grond uit op te rig om wonderlike getuies in Sy koningkryk te wees.”

Hester kan geskakel word vir hulp en bystand by 084 616 2355.

News - Date: 13 March 2009

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: