ADVERTISEMENT:

 

SAMWU eis Musina-topbestuur se koppe

 

News  Date: 13 November 2009

 

Die afdanking van Musina Munisipaliteit se topbestuur word deur die munisipale vakbond SAMWU geëis.

SAMWU eis dat ‘n dringende raadsvergadering belê word waar die munisipale en finansiële bestuurders uit diens verwyder word. Hulle grond die afdankingseis op beweerde korrupsie.

In hul memorandum gedateer 4 November word daar ook ‘n forensiese oudit van alle tenders geëis. Sekere tenders moet dadelik beëindig word, sê die vakbond.

“Ons eis ‘n finansiële verslag wat die wins en verlies van die Spirulina aanleg toon, want ons het nie die fondse om personeel daarvoor aan te stel nie,” lui die SAMWU-memorandum.

Die vakbond verwag dat die munisipaliteit teen 18 November positiewe terugvoer ten opsigte van hulle eise moet gee en dreig met wye industriële aksie as dit nie gebeur nie.

Die lede van die munisipale werkersunie voel dat hulle aanhoudend onder druk moet werk, omdat die munisipaliteit nie die vakante poste vul nie. SAMWU dring daarop aan dat al die poste wat reeds in November verlede jaar geadverteer is, sonder verwyl gevul word.

Die vakbond eis dat die munisipaliteit on-middellik moet ophou om die vakbondlede en –leierskap te viktimiseer.

“Ons eis ‘n totale en onmiddellike beëindiging van die proses van herstrukturering binne ons munisipaliteit en dat die plaaslike arbeidsforum op ‘n spesiale vergadering die saak van alle uitgekontrakteerde dienste hanteer,” lui die memorandum. Hulle eis ook die implementering van alle besluite wat deur die plaaslike arbeidsforum geneem word.

Konsultante sal ook nie meer gebruik word nie, indien die vakbond hulle sin kry.

SAMWU eis dat die Musina Munisipaliteit hul eie swaar masjinerie aanskaf en dit nie van diensteverskaffers huur nie. Hulle wil hê dat die ou werkplek- en dienste herstruktureringskomitee weer ingestel word en dat ‘n gesondheids- en veiligheidsvergadering elke maand gehou word.

“Ons eis dat die armoedeverligting kontrak tot niet gemaak word en al die persone van hierdie projek permanente aanstellings by die munisipaliteit ontvang,” sê SAMWU.

Die woordvoerder van die Musina Munisipaliteit, mnr. Wilson Dzebu, het op 9 November bevestig dat hulle die vakbond se memorandum ontvang het.

“Wat die eise betref, is dit voortydig vir my om kommentaar te lewer. Die munisipaliteit sal voor die 18de ‘n besluit rakende die eise neem,” het Dzebu gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines