

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 January 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) - Hoërskool Louis Trichardt kan vanjaar weer spog met ‘n 100% slaagsyfer vir die 2004 matriekeindeksamen.
Die uitslae bevestig dat die Triegies een van die top 40 skole in die provinsie is. Hierdie ranglys word slegs op grond van die aantal kandidate wat vir universiteitsvrystelling kwalifiseer, bepaal.
Die skool se status as ‘n topskool word bevestig deur die feit dat al 134 matrikulante in 2004 slaag. Die skool is dus een van die min skole wat met ‘n 100% slaagsyfer kan spog.
Die matrieks van 2004 behaal in totaal 137 onderskeidings, 133 B-simbole en 185 C-simbole.
Die individuele toppresteerders vir 2004 is Jan-Erns Joubert en Pieter Botha.
Jan-Erns behaal sewe onderskeidings vir onderskeidelik Afrikaans Primêre Taal, Engels Addisionele Taal, Wiskunde, Natuur- en Skeikunde, Rekenaarstudie, Ekonomie en Rekeningkunde – almal op hoërgraad. Hy gaan hierdie jaar chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer. Jan-Erns is een van vyftien kandidate in die provinsie wat sewe onderskeidings behaal het.
Pieter behaal ses onderskeidings op hoërgraad uit die agt vakke waarvoor hy ingeskryf het. Sy onderskeidings behaal hy in Afrikaans Primêre Taal, Engels Addisionele Taal, Natuur- en Skeikunde, Rekenaarstudie, Ekonomie en Rekeningkunde. Hy behaal verder ‘n B-simbool vir Fisiologie en ‘n C-simbool vir Wiskunde. Pieter het ‘n passie vir mense en sy ideaal is om ‘n mediese dokter te wees. Hy het reeds vertrek na die Universiteit van Oranje Vrystaat.
Zwivhuya Ramatumbu is die toppresteerder uit die Engelse klas met vyf onderskeidings vir Engels Primêre Taal, Afrikaans Addisionele Taal, Ekonomie, Rekeningkunde en Rekenaarstudie. Behalwe vir Rekenaarstudie wat hy op standaardgraad geneem het, is al die ander hoërgraad vakke. Zwivhuya beplan om vanjaar in ‘n handelsrigting aan die Universiteit van Kaapstad te studeer.
Ses matrikulante behaal elk vier onderskeidings. Hulle is Nelia du Buisson (Afrikaans Primêre Taal HG, Engels Addisionele Taal HG, Aardrykskunde HG en Rekenaarstudie SG), Zaakirah Mohammed (Engels Primêre Taal HG, Afrikaans Addisionele Taal HG, Biologie HG, Rekeningkunde HG), Anri Pretorius (Afrikaans Primêre Taal HG, Engels Addisionele Taal HG, Rekeningkunde HG, Rekenaartik SG), Bono Rambani (Afrikaans Addisionele Taal HG, Ekonomie HG, Rekeningkunde HG en Rekenaarstudie SG), Stiaan van den Berg (Afrikaans Primêre Taal HG, Engels Addisionele Taal HG, Aardrykskunde HG en Biologie HG) en Charmaine van Wyk (Afrikaans Primêre Taal HG, Engels Addisionele Taal HG, Aardrykskunde HG en Biologie HG).
Charmaine van Wyk word ook bekroon vir haar buitengewone prestasie in Engels Addisionele Taal waar sy die toppresteerder in die provinsie is. Charmaine gaan hierdie jaar verder studeer in Biologiese Wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria.
Leerlinge wat drie onderskeidings behaal, is: Elsu Coetzee, Wynand du Toit, Vanessa Grundling, Sarisha Guruparsad, Ludi Kern, Karen le Roux, Michelle Meijer, Maria Naudé, Khangwelo Nemukongwe, Ayodele Oke, Matthew Panicker en Jana Venter. Dertien leerlinge behaal twee onderskeidings elk, terwyl 35 leerlinge een onderskeiding elk behaal.
Die skoolhoof, mnr. Henry Denner, bedank elke matrikulant wat die geleentheid wat die skool gebied het om ‘n sukses van sy of haar skoolloopbaan te maak, aangegryp het en puik presteer het.
“Dankie ook aan elke onderwyser wat deur die jaar hard gewerk het om die uitslae moontlik te maak. U is ‘n bewys dat daar geen plaasvervanger vir ondervinding is om leerlinge voor te berei om hul beste te lewer nie,” sê mnr. Denner.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
