ADVERTISEMENT:

 

Tannie Elma van Niekerk bekyk die modderspoor in die bedding by haar voordeur. Die skade is aangerig deur die munisipale tru-grawer operateur, wat reeds onder plaaslike inwoners bekendheid verwerf het met die bynaam "Sikloon Elisa."

“Sikloon Elisa” veroorsaak steeds skade

 

Op ‘n natterige dag het tannie Elma van Niekerk ‘n span munisipale werkers by haar huis in Makhado (Louis Trichardt) vriendelik deurgelaat om vanaf haar erf ‘n rioolprobleem op haar buurman se perseel by te kom.

Weens ‘n nuwe buitjie reën, het sy hulle solank by haar voorhuis laat skuil. Die volgende oomblik was daar ‘n onaardse geraas in die voortuin.

Toe tannie Elma haar daarheen haas om te sien wat besig is om te gebeur, vind sy in ongeloof en ontsteltenis ‘n yslike masjien wat al brullende staan en modder maal in haar sierlike blombedding reg by die voordeur - “Sikloon Elisa” het gearriveer.

Dié laaigraafoperateur van die Makhado Munisipaliteit, wat plaaslik met haar vernietigende tru-grawer dié bynaam verwerf het, was besig om met kenmerkende moddermoles ‘n vernietigende spoor reg binne-in tannie Elma se vertroetelde voordeurbedding te dolwe. Maar nog erger - sy was besig om vasberade met die yslike masjien te mik in die rigting van die kleinhekkie langs die huis. Sy was duidelik van plan om met die masjien deur die byna piepklein opening te beur na die agtergrens van die erf, waar sy in alle erns met die opgrawe van die riool aan die gang wou kom.

“Sy sou die helfte van die huismuur en die hekkie met die hele heining daar langs vernietig het, as ek haar nie tot stilstand gebring het nie,” vertel tannie Elma. “’n Kind kan mos sien dat jy nie met so ‘n affêre deur daardie smal opening kan kom nie. Ek het haar en die hele span toe daar verwilder. Daar was glad nie soveel mense nodig om ‘n riool oop te grawe nie, en dan nog boonop die masjien!”

Tannie Elma sê sy kan nie glo dat die plaaslike munisipaliteit bloot kan toelaat dat dié lompe operateur maar net kan voortgaan met haar beskadiging van eiendom nie.  

Benewens die keer toe sy die tru-grawer omgegooi het toe sy probeer het om vullis op ‘n ongemagtigde plek in Eltivillas te probeer toestoot, lê die vernietigende waarmerk van haar kaskenades ook nog steeds ingeëts in Louis Bothastraat se beskadigde teer. Dit is agtergelaat nadat sy chaos en duisende rande se skade veroorsaak het, waar sy net ‘n waterpyp moes oopgrawe. Nadat sy ‘n netjiese grasperk onnodig tot ‘n modderbad omskep het, vasgeval het en die masjien gered moes word deur ‘n noodsending, het sy voortgegaan, ‘n maroelaboom omgestoot wat oor ‘n sierboon gebreek en oor ‘n kragdraad geval het, wat afgebreek en op die sypaadjie gehang het. Sy het voortgegaan om die waterpyp  te breek en op drie plekke onnodige letsels in die teerpad gekap. Dié skade op die teerpad is bloot so gelaat. Dit lê vandag nog daar.

News - Date: 14 February 2014

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

Email:

ADVERTISEMENT: